Boere en verbruikers van sagte kommoditeite sit in die posisie dat hulle die heeltyd met ’n wisselende begroting moet werk. 

Vir die boer is sy uitgawes maklik om te bepaal en om sy gelykspeelpunt vir sy geskatte opbrengs te kry, maar vanaf planttyd tot bemarkingstyd is ’n baie lang tyd met talle veranderlikes. Die prys wat die boer vandag kan kry en dit wat ná strooptyd beskikbaar is, is soms ver uitmekaar.

Teen planttyd kan die prys hoog genoeg wees om dit winsgewend te maak om mielies te plant, maar teen oestyd kan die prys so ver gedaal het dat die situasie totaal verander het.  

Die gemiddelde boer, wat graan aan die einde van die seisoen moet oes, sit potensieël met graan wat bemark moet word. Indien die prys styg, is sy graan meer werd en as die prys daal, is dit minder werd. Indien die boer dus van ’n finansiële instrument gebruik maak wat kan geld maak indien die mark verswak, sal die boer nie bekommerd hoef te wees dat hy verliese gaan ly as die markprys deur die seisoen daal nie. 

Daar is baie wanopvattings oor wat verskansing behels en watter instrumente beskikbaar is om te gebruik vir verskansing. In 'n reeks artikels gaan ons kyk na die verskillende instrumente wat beskikbaar is en hoe om dit te gebruik.

Boere sit reeds met ’n fisieke graanproduk (potensiële oes) wat afneem in waarde indien die prys van graan sou daal. Dit is dus ’n baie eendimensionele, afwaartse prysrisiko en enige verskansingstruktuur moet dus die boer teen ’n afwaartse prysbeweging beskerm. Dit klink voor die hand liggend, maar daar is verskeie maniere om die verskansingstrukture te reël, elkeen met sy eie stel voor- en nadele.

Indien die strukture verkeerd ingeneem word, kan dit die boer duur te staan kom. Dit is juis om dié rede dat boere altyd seker moet maak dat hulle vertroud is met die verskillende instrumente wat beskikbaar is, en van ’n graanhandelaar met baie ondervinding gebruik moet maak.

BVG se Graanbemarkingsagteware is juis geskep om boere die geleentheid te gun om vertroud te raak met die impak van verskillende strategieë op hul winste. Verskansing word ook soms prysversekering genoem en daar is dus ’n koste verbonde aan die strukture wat gereël word. Dit is belangrik vir boere om hulle daarvan te verwittig voor die seisoen begin, want dit kan kontantvloei-implikasies deur die seisoen hê.

Daar is drie maniere om jou graan te verskans:

  • Vooruitkontrak
  • Termynkontrak (Future-kontrak)
  • Opsies (Put/ Call)

Die eerste metode van verskansing waarna ons gaan kyk, is die vooruitkontrak of die voorseisoenkontrak. 

’n Vooruitkontrak is ’n kontrak tussen twee partye waarvolgens ’n paar punte in die kontrak aangeraak word, soos die leweringstyd, en dit is gewoonlik wanneer die boer stroop (Maart, April, Mei, Junie en Julie). Dan word daar verder verwys na die tonnemaat, graad en gewoonlik ook die plek of wyse van lewering.

Die kontrakte word voor die begin van die seisoen met ’n graanverkryger onderhandel, wat dan ’n prys vooraf met die boer onderhandel. Die kontrak beskerm die boer teen afwaartse prysbewegings, maar die boer kan nie in die ekstra winste deel as die prys hoër sou beweeg nie. Alle oorskotgraan word dan ook teen die huidige prys bemark. 

Die nadeel van so ’n transaksie is natuurlik dat in die geval van ’n misoes, waar die graan nie gelewer kan word nie, word die boer vir die verliese beboet.

Figuur 1: BVG se Graanbemarkingsplan-sagteware toon die risikoprofiel van die boer. Die gelykspeelpunt is R1 900.