Dit volg op mnr. Jamie Dimon, besturende direkteur van JP Morgan, se ongunstige kommentaar oor Bitcoin wat die prys in September tot $3 391,25 laat tuimel het. Dit impliseer ’n opbrengs van meer as 100% sedert dié laagtepunt.

Beleggers kan dan sekerlik nie verkwalik word as hulle drome van buitengewone opbrengste en welvaart koester nie.

Ongelukkig is daar ander partye wat ook daardie drome koester. Die verskil is dat hulle nie daarvan droom om goeie opbrengste te behaal in markte vir kriptogeldeenhede nie, maar eerder hoop om oningeligte beleggers in kriptogeldeenhede se geld vir hulself toe te eien.

Jy kan na sommige van hierdie “geleenthede” verwys as piramideskemas. Die idee is niks nuuts nie. Oningeligte beleggers word genooi om te belê in geleenthede wat blykbaar hoë sekerheid van goeie opbrengste bied.

Terme soos “gewaarborgde” opbrengste en “beperkte geleenthede” word gewoonlik voorgehou om beleggers te lok. Nuwe beleggers se geld word dan gebruik om beleggers wat vroeër belê het, se “winste” mee te betaal. 

Die feit dat kritpogeldeenhede nie een sentrale beurs het soos in die geval van aandele nie, veroorsaak dat daar geleenthede is om bogemiddelde winste te verdien. Ongelukkig sal dit waarskynlik tydelik wees. Soos met enigiets in die lewe: As dit te goed of maklik klink om waar te wees, moet die saak versigtig benader word.

Hoe kan beleggers versigtig wees hiermee?

  • Pasop wanneer opbrengste gewaarborg word. Waarborge van 13% tot 15% wat elke twee weke verdien word, word blykbaar aan beleggers gebied. Is dit moontlik? Soos hierbo genoem, is dit wel moontlik dat daar bogemiddelde winsgeleenthede kan wees in hierdie tipe geldeenhede, maar die syfers is baie optimisties. Die enigste opbrengste wat werklik gewaarborg kan word, is dié van staatseffekte (“bonds”) en sekere bankrekeninge. Selfs die aandelemark se opbrengs kan nie gewaarborg word nie. Om dit in perspektief te stel, opbrengste in staatseffekte en die genoemde bankrekeninge is gewoonlik minder as 10% per jaar.
  • Beleggers moet seker maak dat hul eie rekeninge gebruik word op ’n kriptobeurs. Geldmoet nie in ’n derde party se rekening betaal word nie. Dit is in elk geval onwettig om beleggers se geld saam te poel sonder ’n lisensie van die Raad op Finansiële Dienste (FSB).
  • As beleggers reeds betrokke is by beleggingsgeleenthede wat nie heeltemal veilig blyk te wees nie, is die eerste stap om die aanvanklike kapitaal so gou moontlik te probeer terugkry.

 Suid-Afrikaners kan kriptoverhandelingsrekeninge oopmaak by die Ice3x.com- en Luno-beurse.

* Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ’n geregistreerde finansiële / Yield-X-handelaar op die JSE by BVG Commodities (lid van die JSE). Hy praat Maandagaande om 18:45 op RSG Geldsake. Sy kontakbesonderhede is tel. 012 484 4013 of e-pos: edwin.smit@bvg.net.

Die volgende dienste word gebied:

  • Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X-lisensie (JSE). Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.
  • Die ruil van kontant met die samewerking van Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en omgekeerd.
  • Aandele-portefeuljebestuur met die samewerking van Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.