As die idee van verskansing en afgeleide instrumente op die JSE jou kop laat draai, kan deelname aan BVG se jaarlikse verskansingskompetisie die ideale geleentheid wees om meer te leer oor hoe jy die risiko in jou boerdery kan bestuur.

Die kompetisie word vanjaar die vierde keer aangebied. Die oogmerk is om deelnemers meer vertroud te maak met verskillende verskansingstrategieë. Deelnemers kan as individue of as ’n groep inskryf. Die kompetisie begin op 22 Januarie, deelnemers moet voor 23 Februarie registreer en die kompetisie sal tot 27 April duur. Prysgeld van R45 000 is op die spel.

Só werk dit

Deelnemers moet die hoogste moontlike inkomste verkry deur termynkontrakte en opsies te verhandel en voorseisoenkontrakte te gebruik. Alle deelnemers moet 5 000 ton wit mielies (WMAZ) van ’n Klerksdorpse boer bemark. Die vervoerdifferensiaal is vasgestel op R270/ton en die kontrak is vir lewering in Julie 2018 op die JSE se JUL18 WMAZ-kontrak. Insetkoste is vasgestel op R10 miljoen.

Kompetisie-ure is weeksdae van 09:00 tot 12:00 omdat verhandeling normaalweg in dié tyd op die JSE plaasvind. Die kompetisieplatform sal deelnemers toelaat om instruksies enige tyd in te sleutel, wat dan tydens markure op die relevante prys sal deurgaan.

Deelnemers kan van 22 Januarie op https://portal.bvg.net registreer.

Verlede jaar se wenner was mnr. Marco Meyer, ’n boer van Middelburg, Mpumalanga, wat R20 000 ingepalm het.

“Aan die begin was ek kwaai in die rooi en ek wou net tou opgooi. Ek het egter nuwe planne beraam, want ek het geweet pryse gaan daal. Skielik het dit beter begin gaan. ’n Mens moet besef daar is risiko, maar hoe meer daarvan, hoe meer wins. Daar is egter ook altyd ’n mate van geluk betrokke,” het Meyer ná die kompetisie gesê.