Die kripto-geldeenheid bitcoin en blokkettingtegnologie het al ’n geruime tyd die wêreld aan die gons. Dit maak natuurlik sin, veral na aanleiding van die afgelope paar jaar se buitengewone groei in bitcoin se waarde. Die sogenoemde blokkettingtegnologie hou die moontlikheid in dat dit finansiële transaksies veiliger en goedkoper kan maak.

Ontwikkelings by die maatskappy Long Island Ice Tea is ’n goeie voorbeeld van hoe gaande die wêreld oor blokkettingtegnologie is. Dié maatskappy is ’n Amerikaanse koeldrankvervaardiger. In Desember 2017 het die maatskappy aangekondig dat sy naam verander word na Long Block Chain Corporation. 

Die onderstaande grafiek illustreer wat ná die aankondiging met die maatskappy se aandeelprys gebeur het.


Long Block Chain Corporation se aandeelprys het in twee dae met meer as 200% gestyg. Wat blokkettingtegnologie en koeldrank met mekaar te doen het, is egter nie duidelik nie.

Dit blyk dus dat beleggers nie altyd rasioneel dink oor beleggings nie, ook nie as dit kom by bitcoin, ander kriptogeldeenhede en blokkettingtegnologie nie. In sulke gevalle is spekulante miskien ’n meer gepaste woord as beleggers.
Wees versigtig

In só ’n situasie is daar natuurlik ook opportuniste wat dié spekulante wil betrek by hul “beleggings”. Beskerm jouself op die volgende maniere teen opportuniste.

  • Belê slegs op ’n kriptogeldeenheid-beurs. Suid Afrikaners kan in rand op Ice3X en Luno belê. Groter oorsese beurse sluit in Coinbase, Gemini en Kraken.
  • Die meeste van die beurse vereis FICA-dokumentasie van beleggers namate na hoër vlakke van verifikasie op die beurse beweeg word. Hoewel die verskaffing van FICA-dokumentasie soms problematies is, is dit tog gerusstellend dat die beurse aan die relevante wetgewing voldoen. En selfs al word hierdie beurse nie gereguleer nie, bied dit tog ’n groter mate van sekerheid.
  • Daar is geen rede om geld in ’n derde party se rekening te betaal om in kriptogeldeenhede te kan verhandel nie. Diensverskaffers wat namens beleggers fondse wil bestuur, moet by ’n liggaam soos Suid Afrika se Finansiëlediensteraad (FSB) geregistreer wees. Al word daar belê in kriptogeldeenhede wat nie gereguleer word nie, is dit steeds wys om met ’n gereguleerde entiteit sake te doen.
  • Indien die beurs waar beleggers belê dit toelaat, gebruik die sogenoemde “tweefaktorverifikasie”. Dit beteken twee wagwoorde moet gebruik word om toegang tot jou rekening te kan kry. Dit maak dit moeiliker vir opportuniste om beleggers se wagwoorde te kraak (hack).
  • In ’n vorige artikel is verwys na die vooruitsig op buitengewone hoë opbrengste wat beloof word. Dit moet jou dadelik op jou hoede laat wees – geen opbrengste kan gewaarborg word nie, behalwe staatseffekte se rente.   
  • Pasop vir aggresiewe bemarkerkers (cold callers). Die beeld wat hierdie partye voorhou, is dat die geleentheid vir ’n baie beperkte tydperk beskikbaar is. Daar is geen rede hoekom ’n belegging nie met ’n week vertraag kan word nie.
  • As ’n belegger wél op ’n onbekende platform belê het en geld verloor het, skryf daardie geld af. Oningeligde beleggers word mislei om nog geld oor te betaal om die aanvanklike kapitaal te probeer herwin, wat ’n dwase besluit is. Indien beleggers steeds onseker is oor die laasgenoemde twee punte, is dit dalk ’n goeie tyd om na die rolprent The Wolf of Wall Street te kyk.
  • Derde partye moenie toegang tot ’n belegger se rekenaar of bankrekenings kry nie. Dit geld ook afstandstoegang via die internet. Opportuniste kan baie skade doen as hulle so ’n kans gegun word.
Ten slotte: Gebruik jou gesonde verstand as jy enige belegging maak – des te meer in die geval van kriptogeldeenhede. 

Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ’n geregistreerde finansiële/Yield-X handelaar op die JSE by BVG Commodities (lid van die JSE). Hy is Maandagaande om 18:45 ’n spreker op RSG Geldsake. Navrae: Tel. 012 484 4013; e-pos: edwin.smit@bvg.net.

Die volgende dienste word gebied:

  • Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X-lisensie (JSE). Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.
  • Die ruil van fisieke kontant met die samewerking van Absa en Investec: Die omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en omgekeerd. 
  • Aandele-portefeuljebestuur met die samewerking van Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.