’n Termynkontrak is ’n gestandaardiseerde kontrak wat op ’n beurs verhandel word. Die termynkontrak is gestandaardiseer ten opsigte van die hoeveelheid en die gehalte van ’n spesifieke kommoditeit wat op ’n spesifieke plek en op ’n spesifieke maand in die toekoms gelewer sal word.

Die genoteerde termynkontrakte op die JSE bevat belangrike eienskappe.

Die termynkontrakte op die JSE word in kerwe van 50 ton per kontrak vir sonneblom en sojabone genoteer. Vir mielies is dit in kerwe van 100 ton. Die JSE se webwerf bevat al die kontrakspesifikasies, asook kontant wat benodig word om te verhandel. Dit is dus uiters belangrik dat vir prysbewegings begroot moet word.

Daar is twee tipe verskansers in die mark: ’n Graanboer is ’n kort verskanser of ’n verkoper van graan. Dus sal hy ’n termynkontrak verkoop. ’n Verbruiker van graan is normaalweg ’n koper en sal ’n termynkontrak aankoop.

’n Termynkontrak het ’n vervaldatum. Dit is ’n belangrike datum, want dit moet ooreenstem met wanneer die prysrisiko gedek moet word. In die eerste metode van verskansing het ons gekyk na ’n vooruitkontrak. Daar is talle verskille tussen ’n vooruitkontrak en ’n termynkontrak. Dié verskille word in die tabel hier onder aangedui. 

Termynkontrakte word gebruik wanneer die boer seker is dat hy wel die gewenste hoeveelheid graan op die spesifieke tyd sal kan lewer. Die prys wat op Safex verhandel, sluit die liggingsdifferensiaal in.

Die liggingsdifferensiaal is die aanduiding van die vervoerkoste van enige Safex-geregistreerde silo na Randfontein. Die differensiaal verskil vir elke silo. Die lys silo’s en differensiaalpryse is op die JSE se webwerf beskikbaar.

Die boer moet sy differensiaal van sy leweringsilo aftrek om te bepaal hoeveel geld hy sal ontvang. Dit word die eks-siloprys genoem. Indien die boer nie betyds kan lewer nie, kan hy altyd die kontrak terugkoop.

Dinge soos vraag en aanbod, wêreldgebeurtenisse of selfs die weer kan prysbewegings op die mark beïnvloed.

As die boer hom wil verskans...

As die boer hom teen ’n dalende mark wil verskans, sal hy ’n termynkontrak verkoop sodat hy wins maak op die JSE as die prys daal. Die wins word gebruik om op te maak vir die verlies wat gely is weens die verkoop van goedkoper graan.

As die markprys styg, kan die boer nie voordeel trek uit die styging in die prys nie, want die styging in prys beteken ’n verlies vir die boer, wat weer opgemaak word deur die verkoop van duurder graan. Die omgekeerde scenario is weer gepas vir ’n graanverbruiker. Daar word ook in die mark gepraat van die prys “vasmaak” wanneer ’n termynkontrak gesluit word. Boere en verbruikers verkies die pryssekerheid van so ’n transaksie bo die risiko van moontlike prysbewegings.

Die groot risiko’s in die gebruik van termynkontrakte bly die aanvangsmarge (kontantvloei), asook die variasiemarge wat benodig word. Groot prysbewegings kan tot gevolg hê dat posisies gesluit moet word as gevolg van te min kontantvloei om die termynkontrak deur die seisoen te dra. In só ‘n geval moet die kliënt posisies sluit teen groot verliese weens die groot prysbeweging.

Die groot voordeel van die termynkontrak is as die boer nie kan lewer nie, kan hy dit enige dag sluit. Dit is veral van toepassing in droë jare waar die boer vroegtydig sy posisie kan sluit en dan nie die verpligting het om graan te lewer nie.