Die begroting het uiteindelik klem gelê op verhogings in veral twee soorte belastings om dié tekort te takel:

  • Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) gaan van 14% tot 15% verhoog word. Dit is die eerste verhoging in BTW sedert 1993. Die toename in BTW is ’n ongewilde keuse en die Regering moet krediet kry vir dié moeilike besluit. ’n Mens moet egter onthou BTW is nie betaalbaar op basiese voedselitems, soos mieliemeel, bruin brood, gedroogde boontjies en rys, nie. Dus word die armste deel van die bevolking nie hierdeur benadeel nie. 
  • Persoonlike belasting neem ook toe. In hierdie geval is die belastingskale nie verhoog om vir die toename in inflasie voorsiening te maak nie. Dit beteken dus dat sommige belastingbetalers outomaties in ’n hoër belastingskaal val en gevolglik meer belasting betaal. Dit beteken ’n voortsetting in die verskynsel dat ’n klein deel van die bevolking van Suid-Afrika die meerderheid ondersteun.

Daar is ook ’n verhoging in die brandstofbelastingheffing. Alle Suid Afrikaners gaan nadelig daardeur beïnvloed word. 

Die goeie nuus, volgens Gigaba, is dat die begrotingstekort gaan verklein van die huidige 4,3% van die bruto binnelandse produk (BBP) tot 3,5% in 2020. Die aannames wat waarskynlik gemaak word om daarby uit te kom, sluit hoër ekonomiese groei in. Die klem word dus verskuif van die struikelblokke na die verwagte beter toekoms wat vir Suid Afrikaners wink. Hoe realisties hierdie verbeterde syfer is, is ’n ope vraag. 

Wat uitgawes betref, word beplan om staatsbesteding van R85 miljard oor die volgende drie jaar te besnoei. ’n Groot deel daarvan is glo die inperking op besteding aan infrastruktuurprojekte. Die vraag is egter hoe dit die vlak van dienslewering gaan beïnvloed. 

Die staat se salarisrekening is ’n groot bron van kommer. Werknemers van die staat moet óf minder betaal word óf daar moet minder werknemers wees. Geen politieke party sal egter ’n deel van sy kiesers afdank nie en daar blyk nie lig in hierdie tonnel te wees nie. 

Hoe gaan daar in so ’n ekonomiese omgewing hoër groei geskep word? Dit is ’n ope en moeilike vraag. 

Talle Suid Afrikaners is bly dat mnr. Cyril Ramaphosa die nuwe president van Suid-Afrika is. Die verwagting is dat die ekonomie nou beter sal presteer, veral as die private sektor meer in kapitaalprojekte begin belê omdat sakevertroue moontlik kan toeneem.

Ongelukkig is dit nie maklik om ’n swak ekonomie om te keer nie. Dit is amper soos om ’n groot skip se rigting te verander: Dit kos tyd.

Die rand het sedert November verlede jaar (2017) versterk van R14,50 teenoor die dollar tot die huidige R11,70. Beleggers kan hierdie goeie vlakke gebruik om ’n groter deel van hul beleggings oorsee te belê. Al die geld hoef nie in die buiteland belê te word nie. Van die aandele met plaaslike blootstelling, soos dié van banke en kleinhandelaars, het die afgelope twee maande beter begin presteer. Die verwagting is dat dié neiging kan voortduur. Beleggers moet egter mooi dink as hulle van plan is om al hul eiers in die Suid-Afrikaanse mandjie te belê.

Edwin Smit is ’n portefeuljebestuurder by BVG Financial Solutions, ’n gemagtigde finansiëlediensteverskaffer van die FSB, met lisensienommer FSP 39889, en ook ’n geregistreerde finansiële/Yield-X handelaar op die JSE by BVG Commodities (lid van die JSE). Hy Maandagaande om 18:45 ’n spreker op RSG Geldsake. Navrae: Tel. 012 484 4013 of e-pos: edwin.smit@bvg.net

Die volgende dienste word aangebied:

  • Wisselkoersverskansing op BVG se Yield-X-lisensie (JSE). Lesers kan inteken op die daaglikse valutaverslag.
  • Die ruil van fisieke kontant met die samewerking van Absa en Investec: Omskakeling van rande na dollars, euros en ponde, en vice versa. 
  • Aandele-portefeuljebestuur met die samewerking van Momentum SP Reid Securities. Lesers kan inteken op die daaglikse aandeleverslae.