’n Ram van die Wellwood-stoetery van mnre. Robert en Richard Rubidge van Graaff-Reinet is teen die hoogste prys van R220 000 verkoop aan mnr. Gilly Scheepers van die Bloukruin-landgoed by Fouriesburg. Mnr. Jaco Wessels het die tweede duurste prys van R150 000 betaal vir ’n ram van mnr. Jacques Pienaar van die Mega Merino-stoetery by Colesberg. 

Mnr. Andries Pienaar van die Trumps Merino-stoetery by Hanover het drie ramme vir meer as R100 000 en een vir meer R90 000 verkoop. Sewe ramme is vir meer as R90 000 verkoop.

Altesaam 59 ramme is vanjaar tydens die veiling aangebied.

“Die veiling was uitsonderlik suksesvol en daar was ’n groep ramme van hoë gehalte wat bygedra het tot die sukses van die dag,” sê mnr. Danie Strauss, afslaer van BKB wat die veiling behartig het. “Die boere self het goeie bemarking gedoen en het gesorg dat die meeste kopers weet van
hul diere.”

Mnr. Adrian McNaughton, nuutverkose voorsitter van Merino SA, het die telers voor die veiling geloof vir een van die beste aanbiedings van ramme wat nog op die nasionale veiling gesien is.

Die veiling is by die Botaniese sportterrein in Graaff-Reinet aangebied. Verskeie sale is met groot skerms toegerus vir kopers en toeskouers, sodat aan die Covid-19-regulasies voldoen kon word.

Volgens mnr. Danie Vorster, hoofbestuurder van Merino SA, het die veiling baie goed verloop.

Kopers kon vir die eerste keer regstreeks oor die internet bie saam met die normale veiling, en volgens Strauss was dit nog ’n hulpmiddel wat tot die sukses van die verrigtinge bygedra het