Die departement het op 14 November ’n verklaring aangekondig dat lewendehawe-veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes verbied is. Die genootskap se nasionale Nguni-stoetveiling, die Noordelike Nguni-klub se stoetveiling en die genootskap se veiling van kommersiële Nguni’s moes op 23 November, tydens die genootskap se jaarvergadering by Klein Kariba naby Bela-Bela, plaasvind.

Dr. Oswald Jannasch, voorsitter van die genootskap, sê hulle moes vinnig moeilike besluite neem om steeds te kon voortgaan met die veilings. “Ons het besluit om die kans te waag om ’n interaktiewe katalogusveiling aan te bied en dit in minder as ’n week te reël. Ons bemarkingsagente, GWK en Nuthouse Marketing, het dag en nag gewerk om dit moontlik te maak.”

Jannasch sê weens die invloed van bek-en-klouseer het hulle besluit om nie die veiling van kommersiële diere aan te bied nie. “Die veilings was suksesvol in die opsig dat ons wel die (twee ander) veilings kon aanbied en dat ons ondanks die min tyd tot ons beskikking slegs enkele haakplekke gehad het.”

Dr. Pierre Bester, ’n veearts van Bela-Bela, het aan die begin van die veiling die onderskeie regulasies wat vir dié veilings en vir die vervoer van die diere geld, aan alle kopers en verkopers verduidelik.

Begin nuut dink

Jannasch sê die veilingsbedryf sal weens die probleme beslis “nuut moet dink en hul deel moet bydra tot biosekerheid en nie vir die staat wag nie, anders gaan hulle nie meer besigheid doen nie. As jy nie eers vir die Comrades aantree nie, sal jy definitief nie klaarmaak nie.”

Hy sê hoewel goeie pryse vir van die diere behaal is, kon pryse beter gewees het. “Die hoeveelheid diere verkoop en die pryse is beslis beïnvloed deur die uitbreking van bek-en-klouseer, maar veral deur die onsekerheid vanweë ’n tekort aan sinvolle inligting van die regering se kant af. Die afwesigheid van die diere het in ’n mindere mate ’n rol gespeel.”

Van die beste pryse wat op die nasionale Nguni-stoetveiling behaal is, is die van die bul NH 16 24 Dingaan, wat vir R100 000 verkoop is. Hy is gekoop deur mnr. Theuns Botha van Top Hill-boerdery in die distrik Walkerville in Gauteng, en is te koop aangebied deur Vriendschap Boerdery by Melmoth in KwaZulu-Natal. Pryse vir van die dragtige koeie en dragtige verse het gewissel van R20 000 tot R12 000. Op die Noordelike Nguni-klub se stoetveiling het pryse gewissel van R20 000 vir ’n bul tot R8 500 vir verse.

Voordele

Jannasch sê die voordele van dié tipe veiling in dié tye moet nie onderskat word nie. Die voordele sluit in:

- Die handhawing van biosekerheid.

- Die beperking van die stresfaktor van die diere, met diere wat veral spanning ervaar as hulle baie ver vervoer moet word.

- Die besparingsfaktor vir die verkoper, koper én die afslaer.

- Dié tipe veiling bring die koper en verkoper weer nader aan mekaar.