Die groep het op Vrydag 6 Julie 2018 sy 20ste produksieveiling aangebied op die plaas Up George, in die distrik Wasbank in KwaZulu-Natal. Mnr. Jaco Venter, finansiële kontroleerder van AAM Vee-agente en Afslaers, sê die bul, LAR 140173, is gekoop deur ’n groep wat dieselfde visie en teelbeleid vir die Bonsmara nastreef. Die groep sluit mnre. André van der Heyde, Nico Pieterse, Ben Bosch, Andries Kruger, Paul Maré, Christoff Smit en me. Surina Smal in.

Mnr. Louis Steyl, rasadviseur by Bonsmara SA, sê dié bul is besonders ten opsigte van sy eie prestasie, asook dié van sy voorgeslagte. Die bul word beskryf as ’n vyfsterbul, aangesien hy in al die aspekte van sy evaluasie ver bo die rasgemiddelde presteer het en ’n punt van 9 uit 9 vir sy evaluasie behaal het.

Maré en Bosch sê die bul is ’n toonbeeld van manlikheid. Die kopers is ook beïndruk met sy vers- én bulkalwers.

Altesaam 68 bulle en 63 vroulike diere is op die veiling aangebied en verkoop. Die bulle is verkoop teen gemiddeld R110 368. Die tweede duurste bul is deur mnr. Nick Serfontein, Bonsmaraboer en voorsitter van die Sernick-groep, vir R270 000 gekoop.

Die vroulike diere het ook goeie pryse behaal. Drie vroulike diere wat saam te koop aangebied is, is vir R150 000 aan mnr. Laurence Allem van Viljoenskroon verkoop. Koeie met kalwers is teen gemiddeld R47 643 verkoop en dragtige koeie teen gemiddeld R18 000.

Altesaam 116 kopers het aan die veiling deelgeneem. Kopers van Namibië en Botswana was ook teenwoordig. Die veiling is deur AAM Vee-agente en Afslaers behartig en mnr. Brandon Leer was die afslaer.