Drie semenstrooitjies van die bul Midnight (foto) is teen R65 000 elk aan mnr. Kobus van der Westhuizen en sy seuns Christiaan en Jannes van die stoetery De La Blanc, Vierfontein, verkoop. 'n Veearts op die veiling het dit beskryf as R6 vir 'n enkele sperm. Midnight is die eerste top-Wagyubul waarin die poenskopgeen vasgeteel is. Sy karkasindeks is in die boonste 5% van die ras in Australië en sy marmering knap onder die top-1%. Midnight behoort aan mnr. Johan Strydom van Prime Wagyu naby Aliwal-Noord. Die omset vir 197 lotte was R1,70 miljoen. Altesame 56 embrio’s het R631 500 behaal (gemiddeld R11 276) en 141 semenstrooitjies gemiddeld R7 072. Kommersiële strooitjies vanaf embrio- en semen-stasies is teen R100 tot R500 elk verkoop. BKB het die veiling onder die beskerming van die genootskap aangebied.