Me. Alzena Gomez, woordvoerder by Graan SA, sê Graan SA het besluit om Nampo gratis vir besoekers aan te bied sodat uitstallers ten spyte van die moeilike tydperk waardeur Suid-Afrikaners tans gaan steeds kontak kan maak met besoekers aan die skou.

Aangesien dié skou vir die eerste keer virtueel aangebied word, sê sy die doelwit daarvan is nie om ’n wins te maak nie, maar eerder om ’n platform te skep wat opbouend tot die landbousektor kan bydra.

Daar sal beslis nie ’n tekort aan uitstallers op Nampo se virtuele skou wees nie. Inteendeel, die plekke vir uitstallers is reeds volbespreek.

Uitstallers wat dié skou gebruik om nuwe produkte en verbeteringe op bestaande produkte bekend te stel, handel te dryf en kontakte op te bou, sal vanjaar die feesterrein vir drie virtuele sale verruil wat elk deur middel van ’n webinaar besoek kan word. Kletskamers sal beskikbaar wees, asook verskeie pamflette en ander hulpmiddels wat afgelaai kan word.

Besoekers kan hul virtuele ervaring na hul smaak verpersoonlik en inhoud soos foto’s op die My Nampo-platform op www.nampovirtual.co.za plaas. Daar sal ook kompetisies, gelukkige trekkings en inligting oor spesiale aanbiedinge beskikbaar wees.

Nog ’n eerste vir Nampo is die skep van ’n digitale TV-kanaal waar na paneelbesprekings, kookdemonstrasies en ander vermaak gekyk kan word. Dié kanaal is ook gratis beskikbaar aan alle geregistreerde besoekers.

Nampo Virtueel open op Woensdag 9 September en eindig op Saterdag 12 September. Die virtuele skou kan daagliks van 09:00 tot 19:00 besoek word, behalwe Saterdag wanneer die skou om 14:00 sluit.

Besoek www.nampovirtual.co.za vir nog inligting of om as besoeker te registreer.