Die Nampo-oesdag vier vanjaar sy 54ste bestaansjaar. Van 9-12 September 2020 sal die virtuele Nampo-oesdag nuut, opwindend en innoverend wees. Boere, verskaffers en kollegas sal hierdeur verbind word met baie van hul gunstelinguitstallers en ’n magdom aanlyn inhoud van die bedryf, plaaslik én oorsee.

Die tema vanjaar is: Vind jou 2020 Agri-visie. Graan SA omskep dié grootste landbou-handelsvertoning in ’n gerieflike en veilige, interaktiewe aanlyn en virtuele ervaring. Daarbenewens is die virtuele Nampo-platform beskikbaar met uitgebreide vertoonure van 09:00 tot 19:00. Dit sluit ’n Saterdag tot 14:00 in, wat nog nooit die geval was nie.

Besoekers kan via hul voorkeurslimtoestel deur die internet inskakel. Besoek www.nampovirtual.co.za om solank vertroud te raak. Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, het verduidelik tydens die Covid-19-pandemie wat na verwagting eers in September ’n spits in Suid-Afrika sal bereik, “kan ons nie verantwoordelik voortgaan met ’n handelskou wat meer as 20 000 besoekers per dag lok nie.

“Ondanks maande lange beplanning, die deurlopende oorweging van die verloop van die pandemie, en ’n aanvanklike verlenging van die oorspronklike Nampo-oesdagdatum, is die afstel van dié oesdag die enigste logiese optrede.”

Die besluit om die Nampo-oesdag eerder virtueel aan te bied, is nie ligtelik geneem nie, sê mnr. Toit Wessels, assistent-bestuurder vir Nampo. Dit was ná besprekings en insette van uitstallers en belanghebbendes.

“Hoewel dit hartseer is dat die 2020-Nampo-oesdag nie gaan plaasvind nie, is Graan SA se belangrikste verantwoordelikheid om seker te maak dat boere, uitstallers, belanghebbendes en personeel veilig bly.”

VIRTUELE ERVARING SOOS MIN

Met Nampo Virtueel word egter ’n virtuele byeenkoms gebied wat die meeste bevat van wat besoekers tydens die fisieke oesdag sou beleef het. Uitstallers sal al hul produkte op die virtuele Nampo-platform kan vertoon en hul innovasies ten toon stel. Besoekers kan aanmeld vir individuele konsultasies en na die nuutste tegniese aanbiedings en produkdemonstrasies kyk.

Dit alles geskied in die gemak van jou woonkamer of kantoor. Boonop bied dit Graan SA die geleentheid om die virtuele Nampo-oesdag-ervaring verder as vanjaar te laat strek.

Al kan die virtuele aanbieding nooit die persoonlike ervaring van besoekers en uitstallers op Nampo- park by Bothaville vervang nie, bied dit aan uitstallers die geleentheid om hul fisieke teenwoordigheid by Nampo aan te vul met ’n virtuele weergawe van hul standplaas om sodoende ’n breër gehoor in 2021 en daarna te bereik.

Dr. Dirk Strydom, bestuurder vir graanekonomie en -bemarking van Graan SA, sê die visie van Nampo was nog altyd om ’n platform vir sakeondernemings te skep waar produsente nuwe tegnologie kan sien en toegang daartoe kry.

“Hoewel Graan SA nie kan wag om weer persoonlik met die landbousektor kontak te maak nie, word die bedryf op nuwe maniere verbind. Duisende Nampo-entoesiaste kan op dié nuwe manier bereik word.” Besoek www.nampovirtual.co.za en vind uit hoe jy vir Nampo Virtueel kan registreer. 

VirtueLE BEDRYWIGHEDE

Om aan Nampo Virtueel deel te neem, registreer op www.nampovirtual.co.za Plaas foto’s in die galery en skryf in vir kompetisies. Neem deel aan die daaglikse vroueprogram. Kyk wie het ingeskryf en gewen in die Landbou Boereplanne-kompetisie aangebied deur Omnia, Graan SA en Landbouweekblad.

Sien virtuele uitstallers se produkbekendstellings en gesels met uitstallers in die kletskamers. Sluit aan by webinare oor nuwe neigings en praktyke. Registreer en betaal vir Visie 2020 Konferensiemodules. Besoek uitstallers om meer te leer oor hul produkte en dienste. Besoek uitstallers se winkels om toerusting, produkte en dienste aan te skaf en hou spesiale aanbiedinge dop.

Navrae:
Mnr. Toit Wessels, 082 658 6552; e-pos: toit@grainsa. co.za; web: www.grainsa.co.za.