Taylor het gesê John Deere is dankbaar dat die landbousektor grotendeels kon voortgaan met produksie-aktiwiteite gedurende inperking, hoewel hy baie bewus is van die impak van onder meer die verbod op die verkoop van alkohol en sigarette op sekere bedrywe.

Taylor het die georganiseerde landbou en veral Agri SA en Agbiz lof toegeswaai vir die werk wat hulle gedurende die grendeltydperk gedoen het. Met die hulp van die twee organisasies kon John Deere die Suid-Afrikaanse regering en regerings in ander Afrikalande kontak om hulle steun te vra sodat werksaamhede ten opsigte van meganisasie kon voortgaan te midde van inperking. Die maatskappy doen in sowat 50 Afrikalande besigheid.

Volgens Taylor het hulle regstreeks kontak gemaak met 15 ander Afrikalande wat deel vorm van die maatskappy se kernbesigheid. Danksy dié kommunikasie kon John Deere in 13 van dié lande voortgaan met sy bedrywighede. “Ons benadering met dié lande was dieselfde as met Suid-Afrika. Ons het uitgewys hoe noodsaaklik voedselsekerheid is en dat landboutoerusting onontbeerlik is om onder meer seker te maak gewasse word op die regte tye gestroop. Handelaars vervul daarom ’n sleutelrol en moet daarom toegelaat word om voort te gaan om besigheid te doen om boere te help om te kan bly boer.”

Plaaslik

Die maatskappy het plaaslik geleer hoe belangrik ’n wye handelaarsnetwerk is. “Daar was nie een dag dat ons een van ons handelaars se deure moes toemaak of nie ’n onderdeel kon verskaf nie,” het Taylor gesê. Die maatskappy het ook moeite gedoen om met sy wye netwerk ander maatskappye te help om steeds ’n diens aan boere te kon lewer.

’n Duidelike klemverskuiwing van hoe om die tegnologie beskikbaar vir werktuie aan te wend is sedert die begin van die inperking gesien. Taylor het gesê ’n boer het voorheen tegnologie gebruik om oor ’n afstand op ’n trekker of stroper se rekenaar in te skakel om na te gaan watter werk gedoen word of hoe die stroper vorder. Tegnici het dié tegnologie gebruik om boere by te staan as ’n probleem voorkom.

Tegnici gebruik nou die tegnologie om byvoorbeeld op ’n trekker of stroper in te skakel om vas te stel wat die betrokke probleem is of om onderhoudswerk te doen. Sodoende kan hulle seker maak dat die regte voorbereiding gedoen of onderdeel aangevra word voordat ’n tegnikus uitry plaas toe. Gevolglik kan die maatskappy ’n meer proaktiewe diens aan die kliënt te bied wat nie net geld spaar nie, maar ook tyd.

Mnr. Stephen Nel, bemarkingsbestuurder vir John Deere in Afrika suid van die Sahara, het gesê in ’n opname onder kliënte is bevind dat baie boere nie bewus is van al die beskikbare dienste nie. Die maatskappy het met ’n veldtog begin om boere beter in te lig.

Nampo

Die John Deere-span is baie opgewonde oor die eerste virtuele Nampo wat m?ôre begin. Die maatskappy se stalletjie sal aan die besoeker ’n 3D-belewenis bied met 30 produkte wat in 3D besigtig kan word. Elke dag van Nampo word ’n nuwe John Deere-produk bekend gestel.

Volgens Taylor en Nel is hulle van plan om dié virtuele platform ook in die toekoms tydens onder meer Nampo te gebruik.

John Deere virtueel
Jy kan rondbeweeg binne John Deere se virtuele skoulokaal om onder meer die implemente van nader te bekyk. Foto: Skermgreep

Taylor het gesê hoewel die Nampo-oesdag bekend en gewild is vir onder meer wisselwerking tussen mense, hoop hulle dat die mark ook die virtuele formaat sal omarm. “Ons doelwit is om doeltreffend met kliënte te kommunikeer deur middel van ’n geselsfunksie. Ons nooi hulle om in die volgende vier dae daarmee gemaklik te raak om ook só met ons te gesels.

“Met die noodsaaklikheid van die landbousektor wat tydens inperking duidelik geword het en mense wat die belangrikheid van voeselsekerheid begin besef het, hoop ons Nampo in sy virtuele formaat sal hierop voortbou. Ons gaan die platforms wat nou geskep is, ook in die toekoms gebruik,” het Taylor gesê.