Dié skoulokaal is een van vele nuwe projekte van John Deere, wat onlangs sy Tech Terrain-veldtog op onder meer Landbou.com bekend gestel het. Die maatskappy se bestuurspan het aan dié innoverende konsep begin beplan nog voor hulle geweet het dat die Covid-19-pandemie Suid-Afrika sou tref. Die oogmerk daarmee is om boere te help wat nie na hul naaste John Deere-handelaar kan reis nie.

Mnr. Stephan Nel, bemarkingsbestuurder by John Deere, sê die skoulokaal sal verseker dat die uitstalling steeds besoekers sal beïndruk. “Ons wil nie die verrassing bederf nie, maar ons sal wel onthul dat ons meer as 30 van ons modelle driedimensioneel geskandeer het vir ons virtuele skoukamer. Ons Revet John Deere-winkel is ook in ’n driedimensionele inkopie-ervaring omskep. Dit is seker ’n nuutjie vir die landbou in Afrika.”

Nel glo die nuwe skoulokaal dra by tot die digitale era wat die landbou tans betree en dus is Nampo Virtueel 2020 die ideale geleentheid om dit bekend te stel.

John Deere moedig boere aan om hierdie ekspo by te woon aangesien dit nuwe moontlikhede skep om die beste van die landbousektor ten toon te stel. “Besoekers aan die ekspo sal nie net die eerste besoekers aan ons nuwe skoulokaal wees nie, maar hulle sal ook daagliks die bekendstelling van ons nuutste modelle kan bywoon, spesiale aanbiedinge geniet en daaglikse praatjies met kenners geniet.

“Die skoulokaal oortref al ons verwagtinge en ons is opgewonde om digitale tegnologie te gebruik om ons wêreldklas-toerusting ten toon te stel,” sê mnr. Jacques Taylor, John Deere se besturende direkteur in Afrika en die Midde-Ooste. “Besoekers kan ons aanlyn by ons indrukwekkende nuwe skoulokaal besoek sonder om hul huise te verlaat.”

Nampo Virtueel open op Woensdag 9 September en eindig op Saterdag 12 September. Die virtuele skou kan daagliks van 09:00 tot 19:00 besoek word, behalwe Saterdag wanneer die skou om 14:00 sluit. Besoek www.nampovirtual.co.za vir nog inligting of om as besoeker te registreer.