Sodoende verkry die persone dan ook toegang tot diegene wat wil betaal, se bankbesonderhede.

“Ons wil dit baie duidelik maak aan mense: Nampo virtueel is gratis,” sê dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking by Graan SA. “Ons het nog geen klagtes van mense ontvang wat met die slenter gevang is nie, maar ons wil mense waarsku om nie daarvoor te val nie.”

valse nampo virtueel
'n Skermgreep van die misleidende webtuiste

Besoekers aan Nampo virtueel moet slegs registreer om die webtuiste ten volle te kan gebruik, maar daar is geen koste verbonde aan die registrasie of die gebruik van die webtuiste nie. Strydom sê die misleidende webtuiste sal aangemeld word by die betrokke owerhede en enige plasings wat van dié webtuiste op sosiale media gevind word, word onmiddellik by die betrokke platform aangemeld.

Nampo virtueel bied aan besoekers die geleentheid om sowat 100 uitstallers se stalletjies in die drie virtuele uitstalsale te besoek, terwyl ’n propvol program van uitstallerwebinare, paneelbesprekings en vermaak op onder meer die digitale AgriXtra-TV-kanaal gesien kan word.

Besoek www.nampovirtual.co.za om die volledige konferensie- en vermaakprogramme, asook die lys van uitstallers te sien. Nampo virtueel en die digitale AgriXtra-TV-kanaal sal van Woensdag tot Saterdag oop wees. Die skoutye is daagliks van 09:00 tot 19:00, en Saterdag van 09:00 tot 14:00.

Besoekers kan by www.nampovirtual.co.za registreer.