Tydens sessie twee van dag twee (17 Mei 2017) van die lewendige opname van Nasie in Gesprek, die land se voorste landbouprogram, wat by Nampo-Oesdag verfilm is, het  Vroue in Landbou aan die beurt gekom. RSG aanbieder Suzanne Paxton het die paneelbespreking aangebied wat uit Lindie Stroebel, algemene bestuurder van die PMA in Suider-Afrika, Liesel Foster, produsent van Zastron, en Gloria Serobe, stigter en uitvoerende direkteur van Wiphold, bestaan het.

Foster, 'n beesboer, sê dat sy eintlik nog nie diskriminasie teen vroue in landbou ervaar het nie. “Ek neem aan dit is omdat ek in die bedryf grootgeword het en ek 'n vierde generasie boer is. Die ouer manlike persone in my portuurgroep hanteer my as hul gelyke, wat goed is. Die jonger produsente is egter 'n bietjie versigting om oogkontak by 'n gebeurtenis te maak, maar ek het waargeneem dat my geslag selfs minder van 'n rol gespeel het toe ek my PHD behaal het,” het Liesel gesê.

Stroebel het op 'n plaas grootgeword en boerdery is in haar bloed.

“Toe ek ná skool aanlegtoetse gedoen het, het iemand vir my gesê ss ek maar net 'n seun was, sou ek perfek vir boerdery gewees het. Ek het myself nog nooit enigsins anders as mans beskou nie. Ons is almal gelyk en ek dink dit lê in hoe jy jouself sien. As jy as vrou goed vir die besigheid wil wees, kan jy nie 'n klein dogtertjie wees nie, jy moet jou onderwerp verstaan en nie as 'n vrou in jou omgewing praat nie, maar as 'n persoon wat haar omgewing verstaan."

Foster het die punt gemaak dat vroueboere meer empatie met diere het as gevolg van hulle koesterende aard. Terwyl Stroebel bygevoeg het dat vroue in die landbouwaardeketting ingesluit moet word, want aan die einde van die dag is dit vroue wat die produkte aankoop.

Serobe, wie se maatskappy Suid-Afrika se eerste SEB-maatskappy was wat 'n permanente breë gebaseerde aandeelhouding in 1997 gevestig het, sê dat Wiphold in landbou in beweeg het met 'n boerdery op 2 000 ha.

“Ons het besluit om iets te doen wat die bedryf nie doen nie, daar is grond op die platteland waar mense nie sekuriteit het nie. Ons het besluit om te fokus op daardie gebied en het die kwessie om glad nie titelaktes te besit nie, die nekslag toegedien. Die grond is bewerkbaar; en die feit dat mense nie titelaktes het nie, beteken nie dat ons vir die regering moet wag nie.”

Rakende die kwessies van geslagsdiskriminasie het Gloria gesê dat ouers hulle klein seuns en dogters so moet grootmaak dat hulle van 'n vroeë ouderdom bemagtig word. Om na die volledige episode te kyk en om hierdie uiters interessante bespreking te geniet gaan net na www.nasieingesprek.co.za waar jy ook die Nasie in Gesprek-applikasie kan aflaai en die volledige uitsaaiskedule kan besigtig.

Die reeks vier vanjaar vier jaar van uitsendings by Nampo waar die gesprek oor die belangrikheid van landbou wyd versprei word oor verskeie hoofstroom media soos KykNet, 702/Cape Talk, Soweto TV, Business Day TV en baie ander. Die reeks is ook beskikbaar via YouTube.