Die organisasie het vroeër die jaar aangedui dat die geleentheid na aanleiding van die aankondiging van die inperking deur pres. Cyril Ramaphosa in Maart die jaar na 11 tot 14 Augustus verskuif sou word. Die 2020 Nampo-oesdag sou aanvanklik van 12 tot 15 Mei plaasgevind het.

Volgens 'n skrywe wat Graan SA vanaand aan uitstallers gestuur het, is dit belangrik dat hulle ’n verantwoordelike besluit neem oor die Nampo-oesdag van 2020, en na hulle verskeie rolspelers geraadpleeg het, het hulle besluit om nie vanjaar die Nampo-oesdag vir besoekers op die terrein by Bothaville aan te bied nie.

Graan SA sê hoewel die fisiese uitstallings nie sal kan plaasvind nie, sal hulle steeds ’n virtuele Nampo-oesdag aanbied waar besoekers virtueel die geleentheid sal kry om uitstallers se stalletjies en hulle produkte te besigtig.

Die virtuele aanbieding van die 2020 Nampo-oesdag sal van 9 tot 12 September plaasvind. Van 9 tot 11 September sal die virtuele uitstallings van 09:00 tot 19:00 beskikbaar wees, en Saterdag, 12 September, van 09:00 tot 14:00.

Lees hier meer oor wat Graan SA vir Nampo 2020 beplan.