Mnr. Enoch Godongwana, toe die voorsitter van die ANC se ekonomiese transformasiekomitee, het die media te woord gestaan en die besluit baie halfhartig verdedig. Sy beste poging was dat die besluit geneem is om vier sake te kon hanteer, naamlik:

  • Die wysiging van die Grondwet moes dit wat implisiet in artikel 25 staan, eksplisiet maak.
  • Die wysiging mag nie die ekonomie skade berokken nie.
  • Die wysiging mag nie voedselsekerheid benadeel nie.
  • Dit moet nie die landbou of die finansiële sektor benadeel nie.

Geen tyd is aan die wysiging gekoppel nie, maar die bedoeling was dat die wysiging gedurende die vyfde parlement afgehandel sou word, dus voor die algemene verkiesing van 2019. Agter die skerms is by Nasrec reeds gefluister dat die wysiging van artikel 25 by die agterdeur ingeglip is deur die faksie van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, onder leiding van onder andere mnr. Ace Magashule, wat later tot sektretaris-generaal van die ANC verkies is ondanks bewerings van korrupsie tydens sy termyn as premier van die Vrystaat.

Op 20 Desember 2017 het die ANC se CR17-groepering die verrassende oorwinning wat mnr. Cyril Ramaphosa oor Dlamini-Zulu behaal het, gaan vier, en ondersteuners het nie hul kommissies bygewoon soos hulle veronderstel was om te doen nie. Met ’n klein meerderheid in die kommissie oor ekonomiese beleid is die besluit toe laatnag geneem en het dit ANC-beleid geword.

TRAE PROSES

Die proses het traag begin en dit was gou duidelik dat die besinning oor hoe die Grondwet gewysig moes word om onteiening sonder vergoeding deel van die Grondwet te maak, nie teen 2019 afgehandel sou wees nie.

Daar was ook die verslag van die presidensiële paneel oor grondhervorming en landbou van Mei 2019, en die onverwagse mosie van die EFF wat onteiening sonder vergoeding en nasionalisering van grond aan mekaar gelyk wou stel. Daarby was daar binnegevegte in die ANC wat tot die uiteindelike uitskop van die destydse pres. Jacob Zuma gelei het. Ook was die hersiende onteieningswet nie behoorlik afgehandel nie. Die finale besluite oor die onteieningswet word tans bespreek, want dié gekonsolideerde wet moet uitvoering aan ’n gewysigde artikel 25 van die Grondwet kan gee.

Die parlement het ’n ad hoc- komitee saamgestel wat die proses van ’n grondwetlike wysiging moes bestuur. Dit het uiteindelik die werk van die sesde parlement geword. Weens die Covid-19-pandemie moes die komitee vroeg in Junie 2021 nog verdere uitstel vra.

AARD VAN DILEMMA

Die vraag is of die dilemma juridies of polities is.

Juridies het dit vroeg duidelik geword dat die konsep onteiening sonder vergoeding ’n soort inherente teenstrydigheid bevat. Dit is net die staat wat ’n onteieningsreg het, en onteiening word gekoppel aan ’n soort kompensasie. Die term onteiening teen nulvergoeding het toe sy weg na die wysiging gevind.

Op sy eenvoudigste sou die verskil wees dat onteiening sonder vergoeding nie ’n regsproses sou behels nie, en dat onteiening teen nulwaarde reg aan die stelsel van regsoewereiniteit sou laat geskied.

Regsbeginsels en politieke belang het dus in artikel 25 teenoor mekaar te staan gekom. Die ANC wou vir die kantlyn skop met kosmetiese wysigings. Die EFF het aangedring op wysigings wat op nasionalisering neerkom, waarvoor die ANC nie aptyt gehad het nie. Die DA, IFP en VF Plus was geheel en al gekant teen die wysiging van artikel 25, en om enige wysiging aan te bring, sou ’n tweederdemeerderheid van 400 lede van die nasionale vergadering vereis. Alleen sou die ANC dit dus nie kon vermag nie.

Twee ander politieke faktore moet ook oorweeg word. Die ANC moet ’n nasionale algemene raadsvergadering hou voor sy nasionale konferensie in 2022. Hier sal beleidsvraagstukke bespreek word, en beslis ook vrae oor die grondwetwysiging. ’n Tweede is die munisipale verkiesing op 27 Oktober 2021. Albei hierdie twee aangeleenthede sal die ANC se strategiese besluite oor artikel 25 beïnvloed.

DIE PAD VORENTOE

Vier scenario’s is moontlik met betrekking tot die wysiging van artikel 25. Die wysiging van artikel 25 staan en val egter by twee aangeleenthede. Die eerste is die ANC-besluit by Nasrec in 2017 en die uitvoering daarvan. Die tweede is die parlementêre prosesse om uiteindelik by ’n tweederdemeerderheid uit te kom om die wysiging aan te bring. Daar is natuurlik baie ander kwessies, soos die mandaat van die ad hoc-komitee, grondwetlike vraagstukke en die geldigheid van openbare deelname.

In die eerste scenario gaan die ANC en EFF saamwerk om die wysiging te laat slaag. Tans lyk samewerking tussen die ANC en die EFF egter na ’n baie moeilike roete om die Grondwet te wysig, veral met die EFF se geskiedenis as ’n onbetroubare vennoot in die politiek. Voeg hierby die interne magstryd in die ANC en die sogenoemde RET-groepering (radikale ekonomiese transformasie) se soeke na ’n politieke tuiste.

’n Tweede scenario sou wees dat die parlementêre proses gevolg en ’n kompromis tussen die ANC en die EFF bereik word, maar dat die formulering van die wysiging onuitvoerbaar gaan wees as gevolg van sekere voorwaardes.

’n Derde scenario sou die wysiging van die Grondwet behels, maar dat dit vir jare vertraag word deur hofsake in die Grondwethof.

’n Laaste scenario, met betrekking tot Ramaphosa se verwysing in die parlement op 4 Junie 2021 dat Suid-Afrikaners graag hul eie grond sal wil hê, wys daarop dat die ANC nie aptyt het vir nasionalisering of die voorgestelde voogdyskap van grond nie, en dat die staatshoof die wetswysiging nie sal onderteken nie. Die proses word dus gevolg, maar verlangsaam oor tyd. Dit kan die ANC en DA nader aan mekaar bring, asook ander partye, en die EFF uitskakel.

Hierdie sal ’n baie riskante roete wees, maar baie nader aan die mediaverklaring deur die ANC die oggend ná die veelbesproke onteiening sonder vergoeding laatnag aanvaar is.

Kortom, ná amper vyf jaar wil dit voorkom asof ons nie vanjaar die wysiging van artikel 25 van die Grondwet gaan sien nie. Dus bly onsekerheid met betrekking tot grondbesit ’n inherente deel van die Suid-Afrikaanse politieke en ekonomiese bestel. 

Mnr. Theo Venter is ’n politieke en beleidspesialis en was voorheen verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool.