Dié nuwe plan is deur Mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, in sy begrotingsrede tuisgebring. Voorheen het hy dit laat blyk dat ’n algehele grondplafon van 12 000 hektaar op plaasgrond gestel sal word.

Mnr. Pieter Groenewald, LP van die VF Plus, het uitgewys dat die Regering nou meer landbougrond as sy aanvanklike 30% grond wil onteien. Nkwinti het gesê dat die plan om 30% van landbougrond te herverdeel nou agtergelaat word. Hy het gesê boere moet daarvan afsien dat net 30% herverdeel sal word.

In die Nasionale Vergadering het hy verduidelik dat die grondplafon vir ’n kleinskaalse kommersiële plaas op 1 000 hektaar gestel is, vir ’n mediumskaal kommersiële plaas is dit 2 500 hektaar en ’n grootskaalse kommersiële plaas 5 000 hektaar.

Die 12 000 hektaar plafon is slegs gemik is op bosbou, wildsplase en hernubare energieplase, en enige “oorskotgrond” sal herverdeel word. Vergoeding sal betaal word volgens die billike en regverdige benadering soos in die Grondwet uiteengesit, het Nkwinti gesê.