Daar is sowat 70 000 kommersiële boere in Suid-Afrika, 30 000 meer as die syfer van 39 966 wat deesdae gebruik word om allerhande afleidings oor die sektor te maak.

Prof. Johann Kirsten, hoof van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die Universiteit van Stellenbosch, en dr. Frikkie Liebenberg van die Universiteit van Pretoria, het tydens die “Rethinking Agriculture”-konferensiedialoog wat van 11 tot 13 Oktober in Kaapstad gehou is, gesê die manier waarop landboudata versamel word, het daartoe gelei dat net “groot” boere getel word.

Hulle het inligting uit die landbousensus van 2007 en die die bevolkingsensus van 2011 geneem om te toon dat Suid-Afrika eintlik 69 966 kommersiële boere het. “Die metode waarvolgens ons data oor kommersiële boere versamel voorselekteer groter landbou-ondernemings, en dit is waarom ons die wonderlike getal van 39 000 kommersiële boere in Suid-Afrika het,” het Liebenberg gesê.

Liebenberg, wat die afgelope 10 jaar besig is om verskillende Suid-Afrikaanse databronne “skoon te maak” en die korrektheid daarvan te probeer bevesetig, sê die ondertelling van kommersiële boere is weens die manier waarop deelname aan opnames hanteer word en die instansie wat die opnames doen.

“Een van die goed wat in die 1990’s verkeerd gegaan het, was die afskaffing van beheerrade sonder om te verseker dat iemand verantwoordelikheid neem vir hul funksie van inligtingversameling.”

Volgens hom is die vroeë landbousensusse deur die polisie, en later deur die voorligtingsdiens, geadministreer. “Nou weet die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie hoe om dit te hanteer nie. Die vorms haal nie meer die plase nie, maar word deur boere se rekenmeesters ingevul. Die opnames het agteruitgegaan tot ’n vlak waar hulle weinig meer as groot steekproewe is, en nie meer ’n behoorlike landbousensus nie.”

Deesdae gebruik die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se register van besighede om belastingbetalers wat by boerdery betrokke is, te identifiseer. “Om op daardie register te wees, moet jy vir belasting geregistreer wees of ’n omset van meer as R3,5 miljoen per jaar hê.”

Hy sê dis hoe deelname aan opnames gereël word en daartoe lei dat onbetroubare getalle gekry word. Volgens hom is een van die probleme die feit dat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie deur die Wet op Statistiek gedek word nie. “Dit maak dit al hoe moeiliker vir die departement om sensitiewe inligting in te samel. Mense weier net eenvoudig om die inligting te verskaf.”

Tabel: Struktuur van landbou in Suid-Afrika volgens inligting uit die landbousenus van 2007 en die bevolkingsensus van 2011
Boerkategorie: Bruto boerderyinkomsteGetal boerderyeenhede
R5 miljoen en meer2 927
R3 tot R5 miljoen2 172
R500 000 tot R3 miljoen12 290
Minder as R500 00022 577
Totaal (boere wat vir btw geregistreer is)39 966
Ander kommersiële boere (nie vir btw geregistreer nie) volgens 2011-bevolkingsensus30 000
Totaal kommersiële boere69 966
Kleinboere (2011-bevolkingsensus)280 000
Bestaansboere (2011-bevolkingsensus)700 000
Bron: Johann Kirsten