Die nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het die regspan van AfriForum opdrag gegee om appèl aan te teken teen die uitspraak van streeklanddros Ben Mtebele. Meer as 200 diere moes in 2014 weens wanvoeding op Modise se plaas van kant gemaak word en AfriForum se private vervolgingseenheid het haar namens die NDBV privaat vervolg.

Mthebele se besluit om die saak te laat vaar, volg nadat adv. Dali Mpofu, Modise se regsverteenwoordiger, ’n artikel 174-aansoek vir haar ontslag gebring het. Hy het aangevoer sy moet onskuldig bevind word op alle aanklagte teen haar omdat sy nie op die plaas was nie.

Mtebele het saamgestem dat die plaaswerker, mnr. Tebogo Mokaedi, eerder aangekla moes word en dat AfriForum nie daarin kon slaag om ’n prima facie-saak teen Modise as eienaar te bewys nie.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die familieboerorganisasie Saai, sê die uitspraak skep groot verwarring in die landbousektor oor waar die aanspreeklikheid en verantwoordelikheid van veeboere ten opsigte van dierewelstand lê.

Mnr. Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum, het ook sy teleurstelling uitgespreek, maar meen daar is genoegsame gronde om te appelleer.

"Oorweldigende bewyse"

Me. Marcelle Meredith, bestuurshoof van die NDBV, sê hulle gaan nie opgee nie.

“Daar is oorweldigende be­wyse dat diere op die beskuldigde se plaas gely en doodgegaan het en hierdie feit is ook nie deur die verdedigende regspan ontken nie.

“Die verdediging het eerder die blaam geplaas op mnr. Mogedi, die werker wat R30 per dag op me. Modise se plaas betaal is. Verder het die verdediging tot die uiterstes gegaan in ’n poging om die saak na een oor rassisme en politiek te laat lyk. Dit is niks minder as skandalig nie.”

Meredith het beklemtoon die NDBV is uiters teleurgesteld dat Modise vrygespreek is nadat daar al vir sewe jaar probeer word om geregtigheid te laat geskied vir die diere wat aan gru­same wreedheid op haar plaas onderwerp is.

Dr. Sameer Abbas, ’n Potchefstroomse veearts wat destyds na die toneel uitgeroep is, het in die hof getuig oor die toestand van die diere toe hy op die plaas aangekom het.

Volgens Abbas se getuienis was die diere in ’n uiterse swak toestand en sommige van die diere was slegs vel en been.

Meredith sê hulle is adv. Gerrie Nel en sy regspan by AfriForum baie dank verskuldig vir hul hulp met die private vervolging.