Eskom het pas die koste vir ’n aansoek om ’n sonkragstelsel op te rig, verlaag, sê mnr. Chris Schutte, uitvoerende direkteur van die sonkragmaatskappy Sonfin.

Verder is die wysigings aan skedule 2 op 26 Maart in die Staatskoerant afgekondig.Dit spel duidelik uit dat diegene wat hul eie krag as bystand of rugsteun wil opwek, van lisensiëring én registrasie vrygestel is. “Voorheen was daar onduidelikheid hieroor. Daar was mense wat gereken het dat ’n mens byvoorbeeld jou kragopwekker vir bystandkrag moet registreer,” sê Schutte.

Kragtens die gewysigde skedule is opwekkingsgeriewe kleiner as 100 kWp, wat aan die netwerk gekoppel is, ook nou van lisensiëring en registrasie kwytgeskeld.“

Vir dié stelsels is Eskom-goedkeuring steeds verpligtend, maar kwytskelding van die lisensiërings- en registrasieproses bespaar boere tienduisende rande, wat dit vir meer boere die moeite werd maak om sonkragstelsels te oorweeg.”

UITSET

’n Verdere belangrike wysiging in die skedule is dat die beperking op die grootte van ’n sonkragstelsel nou op die uitset van ’n stelsel gegrond word, en nie meer op die geïnstalleerde kapasiteit van die stelsel nie.Schutte sê die perk is steeds 1 MW, soos voorheen, maar die uitset word nou as maatstaf gebruik.

Voorheen sou ’n boer dus byvoorbeeld ’n stelsel van 1 MW installeer, maar weens die normale verliese in ’n stelsel net ’n uitset van 0,80 MW hê. Nou kan ’n stelsel van byvoorbeeld 125 kWp geïnstalleer word, en solank die uitset nie meer as 100 kWp is nie, hoef die boer dit nie te lisensieer of te registreer nie.

GOEDKOPER LV-AANSOEKE

Sonfin het boonop pas bevestiging by Eskom gekry dat gestandaardiseerde en baie laer aansoek-en-aansluitingstariewe vir laevolt-aansluitings (LV) op 1 April 2020 in werking getree het.Tot 31 Maart 2020 is nie onderskeid getref tussen die koste vir klein en groot stelsels nie, wat klein stelsels minder ekonomies gemaak het. Boere moes ook vir nuwe meters betaal.

Nou hoef boere nie meer vir die meters te betaal nie en die totale koste vir die aansoek-en-aansluitingsproses vir ’n stelsel van 0 kWp tot 100 kWp is op sowat R7 850 vasgestel, waar dit ’n boer voorheen maklik R45 000 uit die sak kon jaag.

Vir stelsels van 100 kWp tot 350 kWp is die totale aansoek-en-aansluitingskoste op sowat R13 830 vasgestel, waar dié koste voorheen tot R70 000 kon wees.

Eskom het ook ’n stap uit sy aansoekproses gehaal, naamlik die uitreiking van ’n kosteberamingsbrief. Boere kry nou dadelik ’n begrotingskwotasie vir LV-aansoeke.

KLEINER AANSLUITINGS

Schutte sê Eskom pas sedert verlede jaar sy prosesse voortdurend aan om die tydsduur vir goedkeuring van LV-aansluitings te verkort en die koste te verlaag.“Eskom is beslis besig om boere te help wat hul eie krag wil opwek.”

So het Eskom in die tweede helfte van verlede jaar besluit laevolt-aansluitings, wat opwekking tot 350 kWP behels, mag ook aan die netwerk gekoppel wees.

Boere met kleiner installasies kan ook dus nou hul energiekoste verlaag deur kragkrediete te kry as hulle surpluskrag aan die netwerk lewer, wat beteken kleiner boerdery-ondernemings kan ook baat vind.

NAVRAE: E-pos: chris@sonfin.co.za