Die polisie sou na verwagting op Dinsdagoggend 28 Julie hul soektog voorgesit het na die liggame van die 83-jarige mnr. Danie Brand en sy 71-jarige vrou, Breggie, in ’n beboste gebied by Hartswater in die Noord-Kaap. Dit volg nadat drie verdagtes die liggaam van hul 54-jarige dogter, Elzabé, uitgewys het ná ’n aanval op die besproeiingsperseel in blok M op Magogong waar die egpaar gewoon het.

Volgens Agri Noord-Kaap neem geweldsmisdaad teenoor bejaardes as maklike teikens onrusbarend toe in die landbougemeenskap. 

“Geen gebied is meer veilig en kan gebeurlikheidsplanne vir veiligheid afskaal nie. Die regering sal sy basiese verantwoordelikheid ten opsigte van veiligheid en die handhawing van wet en orde met ferm optrede moet uitoefen.

“Die polisie benodig die hulp van gemeenskappe wat hulself binne strukture vir landelike beveiliging en gemeenskapsbeveiliging organiseer. Agri Noord-Kaap bied ’n gevestigde struktuur met die samewerking van die polisie op provinsiale en nasionale vlak. Die samewerking van die sekuriteitsmaatskappy Fidelity is ook betrek.

“Gemeenskapslede moet met hul plaaslike landbou-unies en landbouverenigings kontak maak en deel word van hul gemeenskapsbeveiligingsinisiatiewe om weerbaarheid te verhoog,” luidens die verklaring.

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê daar is te veel onverantwoordelike openbare uitsprake wat spanning aanhits en onverdraagsaamheid veroorsaak.

“Verder word hierdie spanning onder meer aangevuur deur ondeurdagte opmerkings en kommentaar op sosiale media. Dit vind plaas binne Suid-Afrika se onbeheersde vlakke van misdaad en wetteloosheid.  Hierdie kultuur leef voort binne die stygende vlakke van werkloosheid, armoede en veral morele verval.

“Boere en inwoners van landelike gebiede moet besef dat hierdie golf van geweld, haat en miskenning van menselewens al hoe meer uitkring na die voorheen ‘veilige’ dele van die land.  Die regering sal dringend ’n benadering van geen verdraagsaamheid teenoor wetteloosheid en misdaad moet toepas. Die landelike gebiede moet hul beveiliging en paraatheid verhoog.”

Die aanval op die Brand-gesin is presies die tipe aanval wat die regering ernstig moet opneem, hoewel pres. Cyril Ramaphosa ontken dat boere in Suid-Afrika vermoor word, sê. me Dianne Kohler Barnard, DA-LP.

“Plaasaanvalle en -moorde moet net so ernstig soos geslagsgebaseerde geweld opgeneem word. Hoogs opgeleide en gespesialiseerde eenhede moet patrollies uitvoer om aanvalle te voorkom. Boere, plaaswerkers en hul gesinne wat elke dag van die week werk om kos op ons tafels te sit, is ook geregtig op ’n veilige werksomgewing.”

Terwyl dit te vroeg is om besliste gevolgtrekkings te maak, kan daar met veiligheid gesê word die aanval op die Brand-gesin is deel van die huidige vlaag plaasaanvalle, óf dit word as dekmantel vir ander misdaad gebruik, sê mnr. Theo Joubert, VF Plus se takvoorsitter in Hartswater.