Die komitee het gister sy kwartaallikse vergadering gehou.

Meyer is bekommerd oor die drie plaasaanvalle die afgelope drie weke in die provinsie, nadat daar in April en Mei geen aanvalle aangemeld is nie. Hy is egter tevrede dat die komitee vordering maak en dat daar eenhede vir landelike veiligheid by meer polisiestasies in die Wes-Kaap gevestig kan word.

“Die Wes-Kaap is verantwoordelik vir 45% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer. ’n Plaasaanval is dus nie net ’n aanval op die waardigheid van boere en plaaswerkers nie, maar ook ’n aanval op die land se ekonomie. Boere is noodsaaklik vir die land se ekonomiese herstel ná Covid-19.”

Meyer sê sy departement het meer as 20 voorleggings van verskeie belanghebbendes ontvang oor hoe misdaad in die provinsie bestuur kan word. Die voorleggings stel onder meer verbeterde wetstoepassing, sigbare polisiëring, werkskepping, onderrig en die gebruik van kameras en ander tegnologie op plase voor.

Meyer beklemtoon dat ’n geïntegreerde benadering gevolg moet word om landelike veiligheid te bestuur. “Die departement van gemeenskapsveiligheid lewer ’n belangrike bydrae tot die integrering en versterking van die landelike veiligheidsplan op distriksvlak.”

Mnr. Albert Fritz, Wes-Kaapse minister van gemeenskapsveiligheid, moedig plaaswagte aan om om die nodige akkreditasie aansoek te doen.“Ek doen ’n beroep op plaaswagte om geakkrediteerde Buurtwag-lede te word sodat hulle toegang tot meer finansiering, opleiding en hulpbronne kan hê.”

Die tegniese komitee oor landelike veiligheid het nou met planne begin om veiligheid in landelike gemeenskappe te verbeter en die basislynstudie oor die oorsake van probleme met landelike veiligheid af te handel.

Meyer sê die komitee het op die vergadering onderneem om ’n kantoor vir landelike veiligheid vir die Wes-Kaap op die been te bring, asook ’n paneel om tred te hou met gevalle waar landelike veiligheid betrokke is.

Kontak Neighbourhood.Watch@westerncape.gov.za vir nog inligting oor Buurtwag-akkreditasie en ondersteuningsprogramme.