Vrystaat Landbou (VL) sê in ’n verklaring drie mense het mnr. Simon Makhotha (77) op Sondag 17 Januarie omstreeks 20:00 op die plaas Harrisdale in die distrik Zastron oorrompel, aangerand en met messe gesteek. Hulle het toegang tot die plaaswoonhuis verkry waar hulle Makhotha vasgebind en verder gemartel het.
Nadat die plaaswoonhuis van etlike besittings geplunder is, het die aanvallers probeer om Makhotha in die septiese tenk van die plaashuis te verdrink. Hy is geskop en met klippe gegooi in ’n poging om sy kop onder die rioolwater te hou.
Makhotha het homself teen dagbreek bevry. Hy is deur die buurman se werkers gevind. Hulp is ontbied en Makhotha is in die hospitaal opgeneem.
Mnr. Marthin de Kock, VL-streekveiligheidsverteenwoordiger, sê die aanval op Makhotha het die boerderygemeenskap geruk. Die plaas behoort aan ’n opkomende swart boer wat nie op die plaas woon nie. “Almal wat op plase woon en werk, is aan die groeiende gevaar van misdaad in die landelike gebiede blootgestel.”
Volgens VL kon die plaaslike polisie blykbaar weens ’n tekort aan voertuie nie na die toneel kom nadat die aanval aangemeld is nie. In die verklaring sê VL die gebrek aan mannekrag en voertuie in die landelike gebiede is al jare lank ’n knelpunt, maar die regering doen niks daaraan nie. VL doen gedurig ’n beroep op polisie en die regering om te sorg dat polisiekantore volledig toegerus is, maar dit is toenemend duidelik dat die boerderygemeenskap op homself aangewese is.
Volgens mnr. Tommie Esterhuyse, visepresident van VL, is gister (18 Januarie) met gesprekke met die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie begin omdat die nasionale landelike beveiligingstrategie nie toegepas word nie. “Dit dra grootliks by tot lae weerbaarheid in landelike gemeenskappe. Die staatsdepartemente moet hul huis in orde kry om gemeenskappe se veiligheid te verseker en hulle van die nodige dienste te voorsien.”
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier