Hy het in die lig van ’n debat volgende week hieroor by die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) se beraad in Davos, Switserland, sy perspektief gegee oor veeboerdery en die besoedeling wat dit veroorsaak. In ’n onlangse WEF-verslag word beweer van 2,4% tot 5% van die sterftes wat met diëte verband hou, kan voorkom word as mense ander vorme van proteïen soos bone en ertjies pleks van vleis benut. Daarby word gesê beesvleisproduksie is verantwoordelik vir ’n kwart van die kweekhuisgasse wat met voedsel verband hou, en dat die landbou verantwoordelik is vir 14% van die wêreld se skadelike gasse.

Scholtz sê persentasies maak nie altyd sin nie. In nywerheidslande is die landbou se bydrae tot kweekhuisgasse minder as 6% bloot omdat die energiesektor se bydrae besonder hoog is. In nie-nywerheidslande kan die landbou se bydrae 40% tot 50% wees, maar die werklike kweekhuisgasse kan baie minder wees as die 6% van nywerheidslande. “ ’n Vermindering van 10% in skadelike gasse kan in die energie- en mynbou-sektor baie meer beteken as ’n vermindering van 10% in die landbou se klein bydrae van net meer as 5%. ’n Vleislose Maandag gaan dus nie veel help nie, veral omdat ander proteïene dan verbruik word wat dalk ’n groter koolstofspoor het.” 

Veeboerdery se belangrikheid

Hy meen die belangrikheid van veeboerdery moet nooit onderskat word nie. Die meeste van die wêreld se natuurlike weiding bevat baie vesel. Net herkouers kan hierdie vesel omskakel in proteïene van hoë gehalte soos melk en vleis.

Lewende hawe is die grootste benutters van landbougrond. In Suid-Afrika is 84% van die opppervlakte van die land beskikbaar vir die landbou, maar net 13% daarvan is bewerkbaar. Die res is net geskik vir veeboerdery.

Hy wys daarop dat die ontbinding van beesmis by ekstensiewe boerdery aërobies is en dat koolstofdioksied en water vrygestel word. ’n Deel van die koolstof word deur omliggende plante opgeneem en net ’n deel word in die atmosfeer vrygestel. By intensiewe boerderye in Europa en Noord-Amerika word mis vir lang tye opgeberg en anaërobiese ontbinding vind plaas wat metaangas vrystel.

Scholtz meen die rol wat die vrystelling van metaangas deur lewende hawe speel, word in elk geval grootliks oordryf. Die belangrikste kweekhuisgasse is koolstofdioksied (49%), metaangas (18%) en nitraatgas (6%).

“Herkouers dra 21% by tot metaangasproduksie. As mens dus na 21% van 18% kyk, is lewende hawe se bydrae tot kweekhuisgasse minder as 4%.”

Hy meen ook die feit dat metaangas, hoewel dit skadeliker is, net 12 jaar in die atmosfeer bly teenoor koolstofdioksied se 100-200 jaar, word geïgnoreer. “Die vraag moet ook gevra word wat van natuurlike weiding gaan word as dit nie vir produksie deur vee benut word nie. Dit gaan deur ander diere gevreet word, wat ook metaangas sal vrystel. Dit kan verbrand word wat koolstofdioksied sal vrystel, of dit kan verrot wat dan nitraatgas sal vrystel wat 300 keer skadeliker as koolstofdioksied is.” 

Syfers oor waterverbruik

Scholtz meen die syfers wat aktiviste vir waterverbruik aanhaal, word ook oordryf. Hy verwys onder meer na ’n syfer van 15 500 liter water wat glo gebruik word om ’n kilogram vleis te produseer. Daar word aangeneem dat dit drie jaar duur om 200 kg ontbeende vleis te produseer. Die waterverbruik word bereken op grond van die besproeiing van aangeplante weiding en reën wat op die plaas val.

In realistieser berekeninge sonder ’n verskuilde agenda word die waterverbruik vir rooivleisproduksie geraam op van 18 liter/kg tot 540 liter/kg na gelang van die produksiestelsel en bestuur. Hy wys daarop dat op natuurlike weiding en gewasproduksie op droëland met sogenoemde groen water benut word. Dit is water wat in die grond opgeberg word nadat dit gereën het en net die plante kan dit benut. Dit is dikwels ook in gebiede wat in elk geval net vir veeboerdery geskik is. “Die metodes waarvolgens die koolstof- en waterspoor vir rooivleisprodukte bereken word, word grootliks gegrond op generiese waardes van lande in die Noordelike Halfrond. Dit maak nie voorsiening vir verskillende produksiestelsels nie.”

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie, gaan aan die debat by Davos oor die toekoms van rooivleisproduksie deelneem. Hy het inligting van die plaaslike bedryf oor die kwessie ingewin. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.