Mnr. Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank, beskryf dit as ’n opwindende ontwikkeling vir die Suid-Afrikaanse bankwese. “Die betrokkenheid van Access Bank in Suid-Afrika maak dit moontlik om volhoubare steun aan ons bestaande kliënte te bied en ook nuwes te werf met ’n teenwoordigheid reg oor Afrika.”

Hy het vroeër gesê die nuwe bank sal landboufinansiering bied, maar dit sal slegs een van die sektore wees wat die bank bedien. As die transaksie afgehandel is, sal Access Bank ’n teenwoordigheid in 10 lande in Oos-, Wes- en Suider-Afrika hê.

Mnr. Herbert Wigwe, uitvoerende hoof van Access Bank PLC, sê die transaksie versterk die bank se teenwoordigheid in Suider-Afrika aansienlik. “Die bank se mikpunt is om Afrika se poort na die res van die wêreld te vorm in ooreenstemming met die visie om die wêreld se mees gerespekteerde Afrika-bank te wees. Die bank streef daarna om ’n kliëntebasis van 100 miljoen op die vasteland teen 2022 te bedien.”

Hy sê met ’n groter teenwoordigheid op die vasteland sal Access Bank beter geplaas wees om steun aan sy kliënte te verleen wat al hoe meer konsentreer op groei binne Afrika. Access Bank, as ’n handelsbank met ’n volle reeks dienste, het reeds 31 miljoen kliënte by meer as 600 takke en dienspunte op drie vastelande en in 12 lande.

Ingevolge die ooreenkoms vir die oorname sal Access Bank R400 miljoen in Grobank belê nadat al die regulatoriese goedkeurings afgehandel is. Die nuwe belegger sal ’n beherende aandeel van meer as 90% hê. Die aandeelhouers van GroCapital Holdings, Grobank se eienaar, is die Kanadese beleggersgroep Fairfax Africa, Afgri Holdings en die Openbare Beleggerskorporasie.

Oor gerugte dat Unigro, wat deel van Afgri is, by die transaksie betrokke is, het mnre. Tinus Prinsloo, direkteur van Afgri, en Ross Simmonds, besturende direkteur van Unigro, gesê nie Unigro of sy werknemers was deel van die twee partye of die transaksie nie. Unigro is en sal ’n verskaffer van pasklaar finansiële oplossings vir boere en landbou-instellings bly.