“Dit gaan nie net oor ’n eiendomsklousule nie, maar oor die transformasie van die land,” sê dr. Vuyo Mahlati, president van die organisasie.

Afasa-verteenwoordigers het met dr. David Masondo, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, akademici en leiers van onder meer die Landbounavorsingsraad, die Land Bank en die Nasionale Landboubemarkingsraad vergader oor die moontlike verwante grondwetwysiging.

“Onteiening sonder vergoeding is nie die groot kwessie nie, maar eerder hoe ons wil hê dit hanteer moet word,” het Mahlati daarna op ’n mediakonferensie gesê.

Steun aan nuwe boere

Volgens haar is dit belangrik om vanuit die staanspoor ook aandag te gee aan die groot mislukking van grondhervorming tot dusver, soos dat die regte mense begunstigdes moet word.

Volgens mnr. Neo Masithela, voorsitter van Afasa, het die organisasie kriteria opgestel en reeds mense uitgewys.

Mahlati het ook gesê begunstigdes móét ondersteun word nadat hulle grond gekry het. “As ons voortgaan soos nou, gaan ons nie sukses behaal nie.”

Afasa gaan saam met die Universiteit van Kaapstad na gevallestudies van mislukte grondhervorming kyk.

Titelaktes

Volgens Mahlati is die gebrek aan titelaktes vir begunstigdes tot dusver deel van die mislukking van grondhervorming. “Grond is aan die ekonomie gekoppel. Sonder ’n titelakte, kan jy nie ’n lening kry nie.”

Sy het vertel dat ’n kommersiële bank verlede jaar in Mpumalanga slegs twee aansoeke om lenings van swart boere hanteer het. “Dit is duidelik daar is ’n ernstige probleem.”

Kriteria sluit swart boere uit van toegang tot kapitaal en ander hulpbronne. “Ons het nou by die punt gekom waar (swart) mense nie eens meer banke nader nie.”

Ontrassing van eienaarskap

Mahlati het gesê die kwessies rondom die mislukking van grondhervorming moet egter losgemaak word van die breër konsep dat eienaarskap van grond ontras moet word.

“Ons stem almal saam dat daar baie mislukkings was. Maar ons kan nie ’n situasie aanvaar waarin gesê word ‘kry die Regering om dit uit te sorteer en moenie aan wit grond raak nie’.

“As ons dít sê, sal die geskiedenis ons baie ongunstig beoordeel.”

Onbenutte grond

Masithela het gesê Afasa het die kategorieë van grond uitgewys wat onteien moet word, naamlik ongebruikte en onderbenutte grond.

“Grond wat die staat reeds bekom het, moet aan mense toegeken word wat daarin belang stel om te boer.”

Masithela het gesê dit moet produktiewe grond wees, maar voedselproduksie moenie benadeel word nie.

Prof. Lungisile Ntsebeza, bekleër van die Nasionale Navorsingsfonds se navorsingstoel vir grondhervorming en demokrasie aan die Universiteit van Kaapstad, het ter verduideliking van wat bedoel word met “onbenutte grond” gesê in sy navorsing in die Oos-Kaap het hy boere gevind wat ’n paar plase besit, waarvan sommiges glad nie gebruik word nie.

“Dit was langs oorbevolkte dorpe met beeste wat honger ly, terwyl daar gras aan die ander kant van die draad was, maar groot borde dat oortreders vervolg sou word.

“Dít is die grond wat geoormerk moet word, teen die agtergrond van ons geskiedenis.”

As voorbeeld van onbenutte grond het hy gesê daar moet onder meer gekyk word na wildsplase.

“Hoekom sal ’n mens vrugbare landbougrond, wat die nasie gevoed het en werkgeleenthede voorsien het, in ’n wildsplaas verander waar minder arbeid gebruik word en net ’n individu of ’n paar mense voordeel uit die grond trek?”