Die aanleg was voorheen ’n Nestlé-produksie-aanleg met die modernste toerusting en tegnologie. Die infrastruktuur is ontwerp vir die vervaardiging van korrels troeteldierkos. Dit voorsien in die gesamentlike behoeftes van die twee maatskappye en pas in by hul planne om in die toekoms in die Afrika-mark uit te brei.

Me. Anina Hunter, besturende direkteur van Afgri Animal Feeds, sê die verbeterde vervaardigingsvermoë sal tevredenheid onder hul klante verseker en Afrique in staat stel om troeteldierkos van topgehalte te verskaf.

Afrique Pet Food sal voortaan alle handelsmerke van Martin & Martin-troeteldierkos vervaardig. Vitagen-hondekos en Epol-troeteldierkos is ook by Afrique se handelsmerkportefeulje gevoeg. Ander handelsmerke vir hondekos is Jock, Grandeur Super Premium en Tailsup.

Volgens Hunter sal die nuwe gesamentlike onderneming gekenmerk word deur entrepreneurskap en toegespits wees op sy klante.