Cameron maak dié opmerking na aanleiding van die onlangse voorvalle waar boere hulself teen hul aanvallers verdedig het.

Mnr. Gerrit van der Walt (59) is Saterdagmiddag deur twee mans op sy plaas buite Zastron in die Vrystaat aangeval. Hy het met sy rewolwer op die aanvallers geskiet. Hy het een van die aanvallers twee keer in die bors en twee keer in die kop geskiet.

Volgens Netwerk24 is Van der Walt se aanvallers vermoedelik, soos dié wat mnr. John Parr wat op sy plaas by Tweespruit aangeval het, burgers van Lesotho. Parr en sy gesin is op Saterdag 20 Junie aangeval. Hy het twee van die aanvallers doodgeskiet, terwyl ’n derde nog in die hospitaal is.

Mnr. Dave Osborne, ’n boer van Mokopane in Limpopo, het Vrydagmiddag van sy aanvallers raakgeskiet.

Cameron sê gevalle soos dié maak dit duidelik dat die vuurwapenamnestie absurd is. “Hoekom mag jy ’n boete betaal en steeds jou motorlisensie hernu as dit verval het, maar jy mag nie dieselfde met jou vuurwapen doen nie?”

Hy sê dit is ’n groot frustrasie dat wetsgehoorsame vuurwapeneienaars anders hanteer word wanneer lisensies verval het.

Hy sê plaasaanvalle sal waarskynlik toeneem en daarom verwelkom AfriForum die feit dat sommige boere terugbaklei teen hul aanvallers. “Ons moedig dit aan. Mense moet hulself bewapen en weet hoe om hulself binne die raamwerk van die wet te verdedig. As hulle bedreig word, moet hulle kan skiet en hulself kan beskerm.”

Cameron sê die boodskap aan aanvallers moet wees dat boere nie sal skroom om hulself en hul eiendom te beskerm nie.

Cameron sê bejaarde mense word nog altyd as ’n maklike teiken beskou. “Dit is al jare lank so. Dikwels is die mense wat baie wreed of gewelddadig aangeval word, ouer mense.”