Luidens ’n verklaring vra AfriForum in dié klag dat die hoë kommissaris vir menseregte ’n ondersoek begin oor die “onverdedigbare en irrasionele skending van burgerlike vryhede” in Suid-Afrika.

Die klag volg ná die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria se uitspraak op 2 Junie 2020 dat die vlak 3- en vlak 4-inperkingsregulasies ongrondwetlik en ongeldig is.

Die klag vorm ook deel van AfriForum se #DieWêreldMoetWeet-veldtog waarmee die organisasie internasionale bewusmaking oor die skending van burgerregte in Suid-Afrika skep en steun vir groter burgerlike vryheid werf.

Volgens mnr. Ernst Roets, AfriForum se hoof vir beleid en aksie, hou die klag verband met die wreedheid waarmee die polisie en weermag landsburgers behandel, die irrasionele regulasies wat die publiek se mees basiese vryhede skend, asook die feit dat die regering die pandemie gebruik as ’n geleentheid om ’n bepaalde rasse-ideologie te bevorder.

“Die staat van inperking kan nie op grond van die Suid-Afrikaanse Grondwet geregverdig word nie en ook nie op grond van die VN se Universele Verklaring van Menseregte nie. Die feit dat meer as 230 000 strafregtelike sake sedert die begin van die staat van inperking aanhangig gemaak is teen mense wat die inperkingsregulasies na bewering oortree het, is ’n bewys van die drakoniese aard van die staat van inperking.”

Besoek www.diewereldmoetweet.co.za vir nog inligting.