As Suid-Afrika dit nie regkry nie, gaan dit ook nie in die res van Afrika gebeur nie, sê dr. Theo de Jager, voorsitter van die Wêreldboere-organisasie.

Hy het op Aartappels SA se transformasiesimposium in Pretoria gesê om die landbou in Afrika tot sy reg te laat kom, is modernisering, meganisering en kommersialisering noodsaaklik. “Al die beperkinge waarmee die res van Afrika sit, het ons reeds in Suid-Afrika oorkom of ons is in die proses om dit te doen,” sê De Jager, wat die afgelope vier jaar 44 lande in Afrika besoek het.

Hy sê elke generasie het sy eie oorlog wat hy nie durf oordra aan sy kinders nie omdat hulle hul eie stryd sal hê. “Die oorlog waarmee ons generasie op die hele vasteland sit, is een teen armoede en hongersnood. Dit help ook nie om dit net in Suid-Afrika te wen nie, want dan sal die res van Afrika se mense hierheen stroom,” sê De Jager.

“Ons sal die draak van armoede en hongersnood in ons leeftyd moet doodmaak anders sal daar geen toekoms wees vir diegene wat ná ons kom nie.”

Hy sê die slagveld vir hierdie oorlog is 46% van die wêreld se onderbenutte grond en 81% van die wêreld se onderbenutte grondwater. “Daarby het Afrika die beste gemiddelde klimaat. Die vasteland het alles wat geld nie kan koop nie. Nogtans is die onderlinge handel op die vasteland minder as 3%”.

'n Towerstaf

De Jager sê geen bedryf kan vinniger welvaart skep as die landbou nie. Wat kortkom, is waardekettings, finansiering, tegnologie en kundigheid. Dit kan deur beleggings verkry word.

Van die leemtes in Afrika wat oorkom moet word, is gebrekkige finansiering, politieke risiko’s, gebrekkige infrastruktuur, ’n gebrek aan markte, grootskaalse korrupsie, grondgrype en ’n siening dat die landbou net ’n leefstyl is en nie ’n sake-onderneming nie.

“Die keersy is dat Afrika nog nooit so gereed was vir ’n landbourevolusie as nou nie. Ek is opgewonde oor wat alles ontsluit kan word deur programme, soos Nepad. Daarby het selfone ’n drastiese verbetering in kommunikasie teweeg gebring. Boere kan maklik met mekaar praat oor grense heen.”

Hy sê jong mense het ook besef dat daar geld te make is in die landbou. “Daar is ’n siening dat landbou nie sexy vir die jong mense is nie, maar ek kan julle verseker daar is niks so sexy as winsgewendheid nie.”

De Jager glo nie in kleinskaalse boerderye nie. Hy sê dit is net ’n armoedelokval. “Die enigste mense wat uit kleinskaalse boerderye geld maak, is die mense wat boeke daaroor skryf. Daar is net een manier om aan armoede te ontsnap en dit is om welvaart te skep. Daar moet ’n winsmotief en ’n strewe wees om die boerdery te laat groei as ’n sake-onderneming.

“Koöperasies kan ’n towerstaf in die hande van kleinboere wees. Saam kan hulle meer bereik omdat hulle die skaalvoordele kan benut, maar groei en vooruitgang moet die hele tyd die motief wees.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.