Volgens mnr. Chris Glennie, ’n franchise-houer van Laeveld Agrochem wat ook landboukundige dienste vir plase in die Oos-Kaap bied, is daar jaarliks plase waar dié kommandowurm uitbreek. Vanjaar se uitbreking is egter erger as gewoonlik. “Dit gebeur so elke drie jaar dat daar ’n uitbreking is wat so erg is soos dié een.”

Volgens Glennie is die uitbrekings hoofsaaklik in droëlandweidings op melkplase, van Port Elizabeth af kuslangs tot by Oos-Londen. “Daar het allerhande interessante insekte kop uitgesteek ná die droogte, al kan ons nog nie sê of die droogte verby is of nie.”

Uitbrekings is ook in die distrikte van Makhanda Fort Beaufort aangemeld.

Glennie lewer ook dienste vir die sitrusbedryf en merk op dat sitrusboere vanjaar ’n bogemiddelde toename in witluisaktiwiteit waarneem, bykomend tot die streng bekampingsmaatreëls vir vrugtevlieg en valskodlingmot wat hulle moet toepas.

Behandeling

Volgens Glennie is dit maklik om die uitbrekings van kommandowurm te bekamp. Hy benadruk egter dat die probleem so vinnig moontlik aangepak moet word.

Sy raad aan boere is om seker te maak die werknemer wat na die weidings omsien, is opgelei om op die uitkyk te wees vir die wurms. As daar wurms is, moet die werknemer kan bepaal hoe erg die uitbreking is.

Afrika-kommandowurm
Foto: Chris Glennie
Afrika-kommandowurm
Foto: Chris Glennie
Afrika-kommandowurm
Foto: Chris Glennie
Afrika-kommandowurm
Foto: Chris Glennie
Afrika-kommandowrum
Kolle van hierdie weiding is opgevreet deur Afrika-kommandowurm. Foto: Chris Glennie

“As die uitbreking nie te ernstig is nie, is dit nie nodig om te spuit nie. Die wurms sal hul siklus voltooi, papies vorm en die motte sal wegvlieg om elders te gaan eiers lê. As dit ernstig is, moet so vinnig moontlik opgetree word anders kan die boer ernstige skade ly.”

Volgens die Landbounavorsingsraad se inligtingsblad oor die Afrika-kommandowurm kan vergiftiging by beeste voorkom wanneer ’n uitbreking van die wurm in kikoejoegras in veldtoestande voorkom. Beeste kan simptome toon ongeveer 10 dae nadat die wurms in die gras waargeneem is. Dit vind net in sommige kikoejoeweidings plaas.

https://www.arc.agric.za/arc-ppri/Pages/African-Armyworm-Outbreak.aspx