AfCFTA is ’n Afrika-handelsblok wat ’n gemeenskaplike mark vir goedere en dienste skep, en ook makliker beweging van mense en beleggings daarstel. Die vryehandelsooreenkoms laat Suid-Afrika toe om sy markaandeel na die vasteland uit te brei vir baie produkte wat hy produseer, omdat die land oor die grootste vervaardigingsektor in Afrika beskik.

Me. Jolanda Andrag, hoof van Agri SA se kommoditeitskamer, sê Suid-Afrika dryf steeds handel binne die bestaande ooreenkomste met die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (SADU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG). Binne die SADU word reeds tariefvry handel gedryf, dus lê die geleentheid nou in veral Wes- en Sentraal-Afrika.

Die AfCFTA bly ’n belangrike mylpaal in die onderhandelingsproses ten einde die doelwit van vrye handel te laat realiseer. Maar is die landbou gereed om munt uit te slaan uit hierdie ooreenkoms?

Sy sê die meeste bedrywe en die spektrum van die georganiseerde landbou is sedert die aanvang van onderhandelinge in 2015 betrokke op forums soos die handelsforum vir die landbou van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling en die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac).

“Nie net sal die opheffing van tariewe ons mededinghenheid versterk nie, maar nie-tariefversperrings soos verskillende sertifiserings, verskillende doeanevereistes en die tyd wat dit produkte kos om die mark te bereik, sal verminder, wat handel in die algemeen sal vergemaklik. Die moontlikheid om vereistes vir verpakking en voedselprotokolle in lyn te bring hou ook ’n groot geleentheid vir ons in.”

Groot mark

Suid-Afrika is verantwoordelik vir 23% van die totale inter-Afrikahandel en altesaam 26,5% van die land se totale uitvoer het in 2019 na lande op die vasteland gegaan. Die SADU is baie belangrik vir Suid-Afrika, met meer as 87% van sy uitvoer wat daarheen gaan.

Wat beduidend is, is dat 83,5% van Suid-Afrika se uitvoer in 2019 na die res van die vasteland vervaardigde produkte was.

Mnr. Theo Boshoff, hoof van regsintelligensie by Agbiz, sê Afrika is reeds ’n groot mark vir die uitvoer van vrugte en wyn. Hopelik sal die AfCFTA die bedryf ondersteun om verder op die vasteland uit te brei. Suid-Afrika voer ook baie graan uit, maar dit wissel natuurlik baie van seisoen tot seisoen aangesien daar nie elke seisoen ’n surplus is nie.

Sistemiese probleme

Sy kollega, mnr. Wandile Sihlobo, hoof van ekonomiese en landbou-inligting by Agbiz, sê die ooreenkoms het die potensiaal om bykomende markte oop te maak waarin die land nie die afgelope jare binnegedring het nie. Prakties beteken dit dat die aandeel van Suid-Afrika se uitvoer van landbouprodukte na die vasteland sal verhoog. Die vasteland is egter ook besaai met sistemiese probleme soos swak of gebrekkige infrastruktuur, ongunstige besigheidsomgewings wat oorgrenshandel baie duur en beperkend maak, korrupsie en swak instellings wat ’n regsuitweg bied.

Hy sê vir AfCFTA om ’n potensiële geleentheid te bied om handelsgroei te ontsluit, sal hierdie soort kwessies behoorlik aangepak moet word.

Andrag sê van die kernkwessies wat deurlopend aan die regering uitgewys word, is toepassing van die reëls van oorsprong; handhawing van biosekerheid, veral ten opsigte van diere- en plantsiektes; gereedheid van die aangewese amptenare om die AfCFTA toe te pas; oorgrenshandel met onwettige produkte; beskerming van handelsmerke en intellektuele eiendomsregte; en dringendheid met die hantering van handelsgeskille.