Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê afvaardigings van Uganda, Botswana, Namibië en Uganda het met hom kom gesels.

“Die protefeuljekomitee van landbou in Kenia het al Graan SA se kantoor besoek om onder meer te gesels oor ons kleinboerprojek,” sê De Villiers in ’n onderhoud vir Landbouweekliks aan Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad. “Hulle wil by Graan SA en Suid-Afrika se kommersiële boere leer hoe om goed te boer.”

Volgens De Villiers is die etiket en sentiment wat gereeld uitgespreek word dat Suid-Afrika se boere die beste ter wêreld is, ook ’n kommoditeit wat uitgevoer kan word. “Ons kan ons boere se kundigheid uitvoer deur hulle in kontak te bring met sulke lande sodat hulle die plaaslike boere daar meer kan leer.”

Sowat 50 lande het vanjaar op die 53ste Nampo-oesdag uitgestal, en afvaardigings van talle verskillende lande het besoek afgelê. “Nampo word as die plaashek na handel in die res van Afrika gesien,” sê mnr. Cobus van Coller, voormalige voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee. 

Afvaardigings van China het Graan SA ook op die oesdag besoek. Drie Chinese uitstallers sal in September op die tweede Nampo Kaap by Bredasdorp uitstal.

De Villiers sê hulle verwag meer as 80 000 besoekers aan vanjaar se Nampo-oesdag, Sowat 68 000 besoekers het op die eerste drie dae deur die hekke gegaan.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.