Hy het aanvanklik saam met sy pa, Hendrik, ’n gemengde boerdery bestaande uit ’n saai-, skaap- en Afrikanerboerdery op die plaas Vliegekraal by Makwassie bedryf. Die afgelope jaar was hy bestuurder van ’n boerdery naby Vorstershoop in die Kalahari.

Breedt was ’n uithaler-losvoorspeler in die Noord-Vrystaatse rugbyspan vir wie hy van 1979 tot 1988 in 149 wedstryde uitgedraf het.

Hy het sy verpligte militêre diens van 1976 tot 1978 op Potchefstroom verrig. Van 1979 tot 1984 het hy ’n vakleerlingskap as Massey Ferguson-dieselwerktuigkundige by Van Wyk-trekkers op Hoopstad gedoen.

Sy oudste seun, Hendrik, sê sy pa het op 20 Desember begin siek word. Hy is later in ’n hospitaal opgeneem. Op Kersdag het hy positief vir Covid-19 getoets en hy is op 15 Januarie oorlede.

Breedt laat twee seuns, Hendrik en Jan, ’n dogter, Marietha, en drie kleinkinders agter. ’n Vierde kleinkind word in Junie verwag. 

Veearts sterf aan kanker

Intussen het ’n Vrystaatse veearts, dr. Petra van Schalkwyk (63), aan kanker gesterf.

Sy was baie bekend in boerderykringe danksy haar werk met plaasdiere waarin sy gespesialiseer het. Haar werk het haar van Riversdal tot Aliwal-Noord geneem, maar die afgelope jare het sy baie werk in die Suid-Vystaat verrig.

Sy en haar man, Bertie, het in ’n stadium ’n plaas by Smithfield gehuur. Die afgelope tyd het hulle plase saam met hul seuns, Gerrit, Willem en Gys, tussen Edenburg en Bloemfontein gehad, waar sy saam met Bertie gewoon het.