Graanprodusente, wat twee goeie seisoene agter die blad het met nog een wat op die horison wink, sal vanjaar die Agbiz-graansimposium van 20 tot 23 September aanlyn kan bywoon. Die tema vir vanjaar se simposium is die hantering en opberging van graan in die toekoms.

Die sprekers sluit in prof. Johann Kirsten, direkteur van die buro vir ekonomiese ondersoek by die Universiteit Stellenbosch, mnr. Ted Blom, energiekenner, dr. John Purchase, voormalige uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, prof. Ferdi Meyer, uitvoerende direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), mnr. Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, en mnr. Arlan Suderman, ekonoom van StoneX.

Die daaglikse sessies begin om 09:00 en eindig om 11:30. Op Maandag 20 September sal gekonsentreer word op die koste van graanopberging ná 2021. Op Dinsdag 21 September word die opbergingsektor se geleenthede en probleme bespreek. Op Woensdag 22 September vind ’n paneelbespreking oor toekomstige tegnologiese vordering plaas. Die simposium eindig op Donderdag 23 September met ’n sessie oor vooruitsigte vir die graan- en oliesaadmark.

Alle belanghebbendes in die graanwaardeketting word genooi om die simposium by te woon. Registrasie vir Agbiz Grain-lede kos R150 en R200 vir nie-lede.

Die simposium word geborg deur John Deere, John Deere Financial, Absa, Nedbank, Standard Bank, AFGRI, Senwes, Agri-Enviro Solutions, BKB, DEGESCH, GOSA, OVK, Ronin System Solutions, Microsep, Santam en StoneX.

Die volledige lys sprekers en die program is by http://brwebinar.co.za/agbiz/#programme beskikbaar. Besoek https://brwebinar.co.za/agbiz/ om vir die simposium te registreer.