In die lig van Agri SA se gesprekke oor onteiening sonder vergoeding, wat op verskillende regeringsvlakke aan die gang is, het Agri SA by sy kongres in Pretoria opnuut vir mandate gevra om voort te gaan met sy planne.

Me. Annelize Crosby, hoof van die organisasie se sentrum van uitnemendheid vir grond, het reeds sedert 2001 die planne, waarvoor daar wel mandate was, aan die lede se verteenwoordigers voorgehou om opnuut daaroor te debatteer en te sê waarmee hulle nie tevrede is nie. 

Die klem van die holistiese plan is Agri SA se verbintenis tot planne en voorstelle waarvolgens die landbousektor ’n leidende rol in volhoubare grondhervorming kan speel, die ontwikkeling van entrepreneurskap en die maatskaplike opheffing van plaaswerkers en -gemeenskappe. Dit moet strook met die Grondwet, moet die Nasionale Ontwikkelingsplan ondersteun en moet die diversiteit binne die landbou erken. 

Van die elemente sluit in ’n spesiale medium vir die uitvoering daarvan, ontwikkelingsfinansiering, vennootskappe, ’n maatskaplike verdrag, steun vir boere in kommunale gebiede en volhoubare grondhervormingsmodelle.

Die finansieringsplan is op sy beurt gegrond op gesubsidieerde kapitaal en ’n fonds wat deur die Regering gewaarborg word.

Een kwessie van die holisitiese plan wat vir verdere bespreking na die sentrum van uitnemendheid terugverwys is, is ’n vorige besluit oor die reg op die eerste weiering vir die staat wanneer ’n grondeienaar ’n plaas wil verkoop. Mnr. Willem de Chavonnes, voorsitter van Agri Noordwes, het gevra die kwessie moet vir verdere bespreking terugverwys word.

Op sy beurt het mnr. Daan Venter van die Vrystaat gevra dit moet duidelik gestel word Agri SA het nie ’n mandaat om namens individuele boere te onderhandel nie. 

Mnr. Dan Kriek, herverkose voorsitter van Agri SA, het bevestig die organisasie het geen magte om namens boere te onderhandel nie.

“Agri SA se rol is om met die Regering rondom beleid te beding in ’n poging om ’n gunstiger beleidsomgewing te skep.”

Mnr. Ernst Pringle van die Oos-Kaap het gekla oor distriksgrondkomitees wat nêrens in die praktyk werk nie en hersien moet word. Dr. Theo de Jager, ’n vorige voorsitter van Agri SA se grondkomitee het voorgestel dat Agri SA moet aandring op markverwante vergoeding en mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, het gevra die klem moet na die inwerkingstelling daarvan verskuif. 

“Die Regering vra die georganiseerde landbou se hulp met die inwerkingstelling van transformasieplanne en ons kan nie hierdie hand wegklap nie. Êrens langs die pad moet ons nou na ’n hoër rat oorskakel om by die inwerkingstelling daarvan te kom.”

Mnr. S.K. Makinana, ondervoorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging, het voorgestel Agri SA moet weer sterk standpunt inneem teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.