“Onteiening is ’n spyker in die ekonomie se doodskis,” het hy op ’n nuuskonferensie van Agri SA in Pretoria gesê. Kriek het saam met ander leiers in die organisasie se direksie, mnre. Pierre Vercueil, ondervoorsitter, SK Makinana, verteenwoordiger van die kommoditeitskamer, Francois Wilken, verteenwoordiger van die algemene sakekamer, en me. Annelize Crosby, hoof van beleid- en grondsake, onderneem om boere tot elke prys teen onteiening sonder vergoeding te beskerm.

Van links is mnre. SK Makinana, verteenwoordiger van die kommoditeitskamer, Pierre Vercueil, ondervoorsitter, Dan Kriek, voorsitter, me. Annelize Crosby, hoof van beleid- en grondsake, en mnr. Francois Wilken, verteenwoordiger van die algemene sakekamer. Foto: Nico van Burick

“Ons het van die begin af gesê ons is gekant daarteen en dit is steeds ons standpunt,” het Kriek gesê. “Die besluit in die Parlement sal ’n ongunstige invloed op beleggings in die landbou, grondpryse, finansiering en ook later produksie hê. Ons is dus reeds ver verby die punt waarop die ANC en pres. Cyril Ramaphosa hul ondernemings gestand kan doen.”

Hy het gesê Agri SA sal nie toelaat dat die Grondwet om politieke redes verander word nie. Hy sal ook nie toelaat dat sy standpunt teen onteiening sonder vergoeding verdraai word om dit te laat lyk of die organisasie teen transformasie of grondhervorming is nie.

Vercueil het verwys na die ongunstige impak op beleggersvertroue, die batewaarde van plase, kollaterale waardes en finansiering vir alle boere. “Kan jy dink wat die invloed op nuwe boere gaan wees? Dit sal hulle uitwis. Agri SA is daartoe verbind om nuwe boere te vestig en ons het nie beleid nodig om ons taak te bemoeilik nie. As ’n boer sonder vergoeding onteien word, sal die kollaterale waarde van grond vir ’n nuwe boer ook waardeloos wees.”

Makanina het gesê hy wil hê swart mense moet grond ontvang en hy wil transformasie sien, maar nié op die manier waarop die Regering dit nou benader nie. Bestaande begunstigdes moet eers gehelp word om suksevol te boer voordat nuwe begunstigdes sonder enige sakeplan opnuut op grond geplaas word.

“Moenie speel met mense se kos op hul tafel nie,” het Wilken gesê. Hy is ook voorsitter van Vrystaat Landbou. “Weens die onsekerheid is boere bekommerd of hulle moet plant of nie. Die Regering kan ons nie een oomblik probeer gerusstel en die volgende oomblik die bedryf probeer verwoes nie.”

Oor die regspad vorentoe het Crosby gesê niks sal oorhaastig gedoen word nie. Daar word voortdurend met Agri SA se regspan beraadslaag. Hulle glo dit is hoogs onwaarskynlik dat die proses veel kan vorder voor ’n nuwe kabinet ingesweer word. “Ons sal ons beskikbare tyd deeglik benut om die beste strategie te bepaal om seker te maak die Grondwet word nie om politieke redes verander nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.