Die staatsrede is gisteraand by die parlement in Kaapstad gelewer.

Van der Rheede sê Ramaphosa se verbintenis om die land se verswakkende ekonomiese groei om te keer, is gunstig en sal tot voordeel van die landbou in geheel wees. “Agri SA hoop van harte dat die president en sy onderskeie ministers en staatsdepartemente in die komende jaar daad by die woord sal voeg.

“Die opbou en herstel van die ekonomie moet nóú op die voorgrond geplaas word. Ons moet beleidsekerheid hê om sodoende beleggers na ons sektor en Suid-Afrika in geheel te lok.”

Mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sê die president is reg dat die landboubedryf groot potensiaal vir groei toon. “Dit is egter jammer dat hy nie méér aandag aan die landbousektor in sy staatsrede gegee het nie. Hy het verskeie planne uitgelig, maar nie genoeg besonderhede verskaf wat die praktiese uitvoerbaarheid daarvan betref nie.”

Hy sê dit is kommerwekkend dat Ramaphosa ook nie verdere besonderhede vir droogtehulp en praktiese oplossings vir die voortslepende droogte, wat steeds verskeie provinsies op hul knieë dwing, bekend gemaak het nie. Daar is ook baie onsekerheid rondom onteiening sonder vergoeding.

Dit is vir Van Zyl teleurstellend dat Ramaphosa geen melding van die toenemende geweldsmisdaad in landelike gebiede en oorgrensmisdade gemaak het nie. “Boere is onder druk weens beleidsonsekerheid en die effek van onder meer onteiening sonder vergoeding, misdaad en droogte. Die president moet genoeg ondersteuning aan die landbousektor bied om volhoubaarheid en voedselsekerheid te verseker.”

Beurtkrag

Agri SA is bekommerd oor die nadelige impak wat beurtkrag op die primêre landbousektor, die voedselwaardeketting en die Suid-Afrikaanse ekonomie het. Beurtkrag het ’n impak op besproeiingsafhanklike en energie-intensiewe bedrywe soos tuinbou, suiwel, pluimvee en landbouverwerking. Besproeiing, die skedulering van besproeiing, die toediening van bemesting, verwerking en verskeping word alles nadelig deur onbeplande kragonderbrekings beïnvloed. 

Die landbousakekamer Agbiz meen Ramaphosa het verskeie belangrike kwessies in sy toespraak geïdentifiseer en is veral tevrede dat hy erkenning gegee het aan die logistieke probleme wat die uitvoer van landbouprodukte kan vertraag.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz, sê een van die belangrikste kwessies wat die president genoem het, is die verbrokkeling van die staat, en veral staatsinstellings soos Eskom se onvermoë om basiese dienste te lewer.

Hawens

Hy sê ook die land se oorvol en ondoeltreffende hawens is ’n groot probleem vir landboubesighede, veral in die sitrusbedryf. “Sonder doeltreffende dienste, wat logistieke dienste insluit, sal dit uiters moeilik wees om die globale mededingendheid van die waardekettings in die landboubedryf te behou en te verbeter.”

Volgens Purchase sal die bespoediging van die uitreik van watergebruikslisensies wat Ramaphosa in sy toespraak belowe het, bydra tot die uitbreiding van die landboubedryf wat, soos die president beaam het, ’n belangrike rol in Suid-Afrika se ekonomiese ontwikkeling speel.

Hoewel Agbiz vanjaar se staatsrede verwelkom, bly hy gekant teen die regering se “onnodige” plan om artikel 25 van die Grondwet te wysig ten einde voorsiening te maak vir onteiening sonder vergoeding. Dié plan is weer in gisteraand se staatsrede genoem.

Luidens ’n verklaring op Agbiz se webwerf meen dié sakekamer die voorgestelde wysiging is onnodig en ’n skadelike benadering tot grondhervorming, beleggersvertroue en die kommersiële lewensvatbaarheid van die landboubedryf.