Mnr. Pierre Vercueil, voorsitter van Agri SA, sê die organisasie het Agri SA se uitvoerende bestuur, onder leiding van mnr. Omri van Zyl, in 2015 opdrag gegee om dié maatskappy op die been te bring. Die maatskappy se dienste is gemik op die voedselwaardeketting en word aan ’n wye spektrum kliënte gelewer. Die dienste sluit onder meer die ondersoek, vestiging en finansiering van kommersiële landbouvennootskappe in.

“Gegewe die eksponensiële groei van Agri SA Enterprises (Edms.) Bpk., het die behoefte vir ’n heeltydse uitvoerende hoof met ’n eie direksie ontstaan. Die raad van Agri SA het daarom besluit om Van Zyl, die afgelope vyf jaar uitvoerende hoof van Agri SA, as uitvoerende hoof van Agri SA Enterprises (Edms.) Bpk. aan te stel. Hy sal aan die direksie van Agri SA Enterprises (Edms.) Bpk. verslag doen. Agri SA is die alleenaandeelhouer van Agri SA Enterprises (Edms) Bpk.”

Hy sê Agri SA sal voortgaan om op beleidsnavorsing, ontledings en voorspraak te konsentreer. “Die bedrywighede word deur verskillende sentrums bedryf wat op landelike veiligheid, grond, natuurlike hulpbronne, ekonomie en handel, arbeid en ontwikkeling, en rampbestuur konsentreer. Hierdie sentrums bestaan uit professionele en ervare beleidskenners wat op hul beurt ’n verskeidenheid dienste lewer aan die provinsiale, kommoditeits- en korporatiewe kamers wat by Agri SA geaffilieer is.”

Die raad van Agri SA het besluit om mnr. Christo van der Rheede as uitvoerende direkteur van Agri SA aan te stel. Hy was die afgelope vyf jaar die adjunk-uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Die raad wens Van Zyl en Van der Rheede alles van die beste vir die taak voorhande toe en vertrou dat Agri SA en Agri SA Enterprises (Edms.) Bpk. van krag tot krag onder hul leiding sal gaan,” sê Vercueil.