Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die mikpunt is om R10 miljoen in te samel.

“Die burgerlike onrus in die meeste dele van KwaZulu-Natal asook in Gauteng het groot skade aan ondernemings, plase en die lewensbestaan oor hierdie provinsies heen veroorsaak. Hierdie mens-gemaakte ramp het gelei tot ’n humanitêre krisis waarvolgens inwoners van verskeie dorpe in KwaZulu-Natal tans geen toegang tot voedsel, mediese voorraad, brandstof of skuiling het nie,” sê hy.

“Die plundering het ’n geweldige uitwerking op werkgeleenthede en voedselsekerheid in Suid-Afrika as geheel – nie slegs weens verliese deur ondernemings nie, maar ook omdat Durban se hawe nie kan funksioneer om landbouprodukte te ontvang en uit te voer nie.”

Volgens ’n verslag wat op 13 Julie 2021 bekend gemaak is, is die boerdery-gemeenskappe wat in KwaZulu-Natal geraak is Greytown, Dalton, Eston, Midde-Illovo, Underberg, Nottingham Road, Boston, Kwambonambi, Melmoth, Empangeni, Richmond, Ladysmith, Umzimkulu, Seven Oaks, Ixopo, Babanango, Port Edward, Izotsha, Harding, Newcastle, Madadeni, Weenen, Osiweni, Donnybrook, Donnybrook, Boston, New Hanover en Mooirivier.

Volgens Van der Rheede werk Agri SA, in vennootskap met Kwanalu, Agri SA se landbou-affiliasie in die provinsie, aan planne om humanitêre hulp aan die betrokke boere, plaaswerkers en plaaslike gemeenskappe te kan verleen kan.

Die hulpfonds sal gebruik word om die koste van goedere en die vervoer (met behulp van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag) en verspreiding daarvan deur middel van Kwanalu te dek.

Agri Noord-Kaap het reeds ’n bydrae tot dié fonds bewillig om onder meer private sekerheidsondernemings en die polisie te finansier om wet en orde te handhaaf. “Die enigste hulp wat verafgeleë gemeenskappe nou kan bied, is geldelike bydraes. Daar is verskeie hospitale met voedselnood weens aflewerings wat nie gedoen kan word nie,” sê mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap.

hulp Agri SA
Agri Noord-Kaap, wat ’n bakkie-borgskap van Nissan Suid-Afrika in Kimberley ontvang het. Dit is een van nege Nissan Navaras wat aan die nege provinsiale landbou-unies beskikbaar gestel is. Van links is mnre. Dirk Kapohl (bedryfsbestuurder Agri Noord-Kaap), Nicol Jansen (voorsitter, Agri Noord-Kaap), Johan Booysen en André van Tonder, onderskeidelik handelaarshoof en verkoopbestuurder van Morgan Nissan in Kimberley. Foto: Johan Norval

Van die landbou-ondernemings wat reeds ruim bydraes bewillig het, is Santam Landbou met R500 000 en die voertuigvervaardiger Nissan Suid-Afrika wat die Agri Securitas-fonds vir plaasbeveiliging ’n geruime tyd lank al ondersteun.

Oorbetalings kan aan Agri SA se ramphulpfonds gemaak word: AGRI SA, Absa, tjekrekeningnommer: 40-6854-0775, takkode 632005 met die verwysing: Civil unrest.

Navrae kan gerig word aan me. Andrea Campher, die risiko- en rampbestuurder by Agri SA, by andrea@agrisa.co.za of me. Aloise Fullex, die bemarkingsbestuurder, by aloise@agrisa.co.za.