Agri SA is oorgehaal om enige onregmatige aanslag op die besit van landbougrond, die omgewing en die Grondwet in die howe te beveg. Om dié doelwit te bereik sal die organisasie ’n Artikel 21-maatskappy stig en dit afsonderlik administreer.

Die mikpunt is om minstens R38 miljoen vir toekomstige regsgedinge in te samel, het mnr. Ernest Pringle, voorsitter van Agri SA se landbou-ontwikkelingskomitee  op Agri Oos-Kaap se kongres bekend gemaak.

Mnr.  Omri van Zyl, uitvoerende direkteur, het op navraag daaroor gesê Agri SA sal ander organisasies binne die georganiseerde landbou en ook in die res van die burgerlike samelewing daarby wil betrek en hande vat oor kwessies van gemeenskaplike belang.

In belang van hele SA

“Ons beoog hierdie onderneming nie net in belang van die landbou nie, maar die hele Suid-Afrika. As die landbou vou, vou die breër ekonomie ook. Dit strek dus wyer as net ons eie lede. Ons wil graag die hele burgerlike samelewing in die proses mobiliseer. Regsgedinge is duur, maar as ’n miljoen mense elkeen R100 gee het jy skielik R100 miljoen beskikbaar.

“Ons sien baie keer goed raak wat die algemene publiek nie sien nie, soos bedreigings in eiendomsregte.”

Hy sê dit gaan oor kwessies soos grondwaardasies, grondplafonne, onteiening en ook oor wyer kwessies soos die ontginning van skaliegas en waterregte. Agri SA het reeds met ander organisasies, soos die Wêreldnatuurfonds (WWF), in die verlede saamgewerk.

Agri SA beoog ’n media-veldtog saam met die amptelike bekendstelling van die fonds.