Mnr. Johannes Möller, voorsitter van Agri SA, het by laasgenoemde se jaarkongres buite Pretoria gesê die organisasie se droogtehulpverlening getuig daarvan dat hulle meer oplossinggedrewe word in hul benadering tot hulpverlening.

Soortgelyke inisiatiewe sluit in ’n risikobestuur-lessenaar wat gedeeltelik deur Senwes finansier word en reeds bekend gestel is, ’n rampfonds en ’n landbouversekeringstelsel, finansieringsmodelle vir opkomende boere en grondhervorming en die byhou van akkurate en opgedateerde data oor transformasie.

'n Kleiner direksie

Möller sê die herstrukturering sluit in ’n kleiner direksie van 14 lede teenoor die vorige sowat 68. Die provinsiale, bedryfs- en korporatiewe kamers voorsien die direksie van leiding, terwyl die sentra van uitmuntenheid (Arbeid, Ekonomie en Handel, Landelike Veiligheid, Landelike-ontwikkeling en Natuurlike Hulpbronne) opdragte sal oorweeg en uitvoer.

Verder is Agri SA se handelsmerk geherposisioneer ter bevordering van die voortgesette strewe na ’n “organisasie vir die boer, in besit van die boer”. Dit volg op twee jaar se intensiewe navorsing en beraadslaging met alle belanghebbendes in die organisasie.

“Ons moet die openbare mening beïnvloed ten gunste van boere en sekerheid van eiendomsreg. Hierdie is ’n massiewe taak, maar iets wat ons kaalvuis gaan pak. Ons streef ook na balans en inklusiwiteit. Ons het ’n verskeidenheid lede en ons respekteer verskillende menings en standpunte.”