Hy het in ’n webgesprek wat deur die bemarkingsagentskap SPACE en die Nederlandse ambassade oor die gevolge van Covid-19 op die landbou in Suid-Afrika aangebied is, gesê niks in Suid-Afrika sal in die toekoms dieselfde as in die onlangse verlede kan voortgaan nie. “Die landbousektor sal geruime tyd kan voortgaan om gesonde voedsel volhoubaar te produseer, maar die vraag is of verbruikers te midde van die ekonomiese insinking nog sal kan bekostig om te eet.”

Hy het gesê verlede jaar het Suid-Afrika R127 miljard se produkte uitgevoer en R85 miljard se produkte ingevoer. “Altesaam 25 van die vernaamste produkte wat plaaslik geproduseer is, word uitgevoer. Die vermoë is steeds daar om dit te doen, maar die Covid-19-pandemie het die ekonomie drasties verander.”

Van Zyl het gesê die tyd vir politieke opportunisme is verby. “Met die ergste van die virus wat nog vir Afrika voorlê, sal die klem moet wees om alles ter wille van die ekonomie korrek te doen en beleidsekerheid sal noodsaaklik wees. Die landbou sal ekonomies beskerm moet word met praktiese dinge soos belastingtoegewings en skuldhulp.”

Mnr. Menzi Dlamini, ’n beleggingsadviseur van KwaZulu-Natal, het gesê beleidsekerheid oor grondbesit is nodig. “In die landbou is grond die sekuriteit waarmee lenings bekom kan word om produksie moontlik te maak. Ter wille van beleggings het ons beleidsekerheid nodig.”

Prof. Philip Spies, ’n toekomsnavorser van die sakeskool by die Universiteit Stellenbosch, het gesê soms is ’n krisis nodig om veranderinge teweeg te bring en ’n regering te laat afsien van sy kleinlike politieke projekte. “Daar moet opnuut gedink word hoe om Suid-Afrika op ’n ekonomiese ontwikkelingspad te kry.”

Inperking

Hy glo meer ekonomiese bedrywighede sal op ’n verantwoordelike wyse van Mei af toegelaat moet word. Hy het gesê dit gaan oor menselewens, maar met die helfte van die land se mense wat in armoede leef, gaan daar mense wees wat weens die ekonomiese gevolge van die nasionale inperking ook gaan sterf.

“As die inperking verder gerek gaan word tot Junie of Julie sal die ekonomiese gevolge ontsagwekkend wees. Die skade gaan waarskynlik groter wees as die gevolge van die virus.”

Hy het gesê Suid-Afrika se situasie is benard. Die werkloosheid in Suid-Afrika onder die jeug trek by 60% en saam met mense wat ophou werk soek het, staan die totale werkloosheid naby 45%.

Om die situasie te red is ekonomiese groei van 5% tot 6% per jaar nodig, terwyl dit bykans onmoontlik gaan wees om in die volgende paar jaar wat voorlê, groei van meer as 3% in die land te sien. 

Mnr. Jack Vera, landbouverteenwoordiger by die Nederlandse ambassade, het in die webgesprek gesê een les wat Nederland by Suid-Afrika kon leer, was dat hy gouer moes opgetree het om ’n nasionale inperking in te stel.