Dit het duidelik geword toe die departement en die Land Bank vandeesweek verslag moes doen aan die parlement se portefeuljekomitee oor die stand van finansiering en transformasie vir swart boere en hoe die bank die geld aanwend wat die departement aan hom toestaan.

Pres. Cyril Ramaphosa het verlede jaar ’n ekonomiese stimulus-en-herstelpakket aangekondig waarin finansiering vir opkomende boere belowe is. In die mediumtermyn-bestedingsraamwerk het die tesourie R3,9 miljard begroot vir die Land Bank om die kommersialisering van swart boere te ondersteun. Dié geld, wat oor drie boekjare toegewys is, moet vir verskillende hulpprogramme aangewend word en nie net vir die kommersialiseringsprogram vir swart produsente – wat intussen herdoop is tot gemengde finansiering – nie.

Die Land Bank administreer die geld.

Gemengde finansiering

Die nasionale tesourie dui aan dat vir die 2019-’20-boekjaar R700 miljoen vir restitusie, R210 miljoen vir toelaes vir grondhervorming, R150 miljoen vir die bevordering van kleinskaalse boere en R271 miljoen vir gemengde finansiering begroot is.

Die res van die geld is vir die volgende twee boekjare toegewys. Die totale begroting vir die 2020-’21-boekjaar en 2021-’22-boekjaar is onderskeidelik R1,2 miljard en R1,3 miljard.

Swak kriteria

Die departement intussen die gemengde finansieringsprogram eers op ys geplaas omdat sy kriteria so swak was dat selfs staatsamptenare vir die finansiering kon aansoek doen. Sowat vyf van die goedgekeurde aansoeke was van staatsamptenare. Nuwe kriteria is al opgestel, maar die departement of die bank kon nie duidelikheid gee oor wanneer die program amptelik begin sal word nie.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wou by die bank weet wanneer die program hervat gaan word.

Mnr. Sydney Soundy, uitvoerende bestuurder vir strategie en kommunikasie by die Land Bank, het gesê sewe projekte met ’n totale toelae van R88,6 miljoen en leningswaarde van R58,7 miljoen is goedgekeur. Van die toelaes en lenings aan hierdie projekte is uitbetaal, maar die departement het hom op 30 April 2019 versoek om verdere aansoeke op ys te plaas totdat die hersiening van die gidsprojek voltooi is.

Agri SEB

Die Agri SEB-fonds is een van die groot probleemkinders van die departement en is in ’n stadium opgeskort. Mnre. Rubben Mohlaloga, voormalige voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, Phil Mohlahlane, voormalige uitvoerende hoof van Land Bank, en Dinga Nkhwashu, ’n prokureur, is in Februarie tronkstraf opgelê vir bedrog en geldwassery van R6 miljoen se Agri SEB-geld. Hulle het geld wat vir plaaswerkers en ontwikkelende boere bedoel was, aangewend om onder meer luukse motors en ’n plaas te koop.

Soundy het gesê die bank het R251 miljoen vir die fonds. Die bank wag vir goedkeuring van die departement om R46 miljoen aan ses aansoekers uit te betaal.

Mnr. Joe Kgobokoe, adjunkdirekteur-generaal vir beleid, beplanning en monitering by die departement, het gesê die departement het sedert 2012 altesaam 178 voorstelle ontvang, 18 se lewensvatbaarheid is nagespoor en 6 is vir finansiering goedgekeur.

Komiteelede het verskeie vrae gehad oor waarom die geld nie aan projekte uitbetaal word nie en wat die probleme is wat dit voorkom.

Kgobokoe het gesê dat sekere vrae van komiteelede rakende die fonds nie in die vergadering beantwoord kan word nie en dat dit skriftelik gedoen sal word.