AgriBonus en van sy vennote, wat saam die grootste globale koalisielojaliteitsprogram in die landbou bedryf, het ’n konsep bekend gestel om kommersiële boere by te staan in tye van nood deur die Agri Relief Foundation (ARF), ’n organisasie sonder winsoogmerk wat dit vir boere en die landbougemeenskap maklik maak om mekaar in tye van nood by te staan.

Dié vennote, onder meer Zoetis, Laeveld Agrochem en De Heus, het onderneem om skenkings aan die ARF te maak op grond van produkverkope.

Die doel van die fonds is om individuele kommersiële boere en boerderyeenhede te help met vinnige finansiële bystand in tye van nood. Dit sluit in boere wat al hul vee tydens brande verloor het, plaasmoorde en politieke onluste waar onmiddellike finansiële of kundige hulp vinnig benodig word, asook natuurrampe (uitgesluit droogtes), wat volgens AgriBonus die voortbestaan van ’n volhoubare boerderyeenheid ernstig bedreig.

Die dieregesondheidsmaatskappy Zoetis het reeds onderneem om R10 te skenk vir elke houer Terramycin (500 ml), Cydectin (500 ml) and Dectomax (500 ml) wat hy verkoop. Zoetis het onlangs in Sandton ’n skenking ter waarde van R456 360 aan die ARF oorhandig. Die bedrag verteenwoordig verkope op die voornoemde produkte sedert die begin van die jaar.

Die ARF het elke lynitem-skenking van elke deelnemende produk wat verkoop word, geregistreer. Elke transaksie is dus naspeurbaar en maak dit moontlik om enige hulp wat aan ’n boerdery verleen word, terug te spoor na die transaksies wat daardie spesifieke geld gegenereer het. Daar kan dus kwartaalliks of jaarliks ’n verslag aan elke boer gestuur word oor die produkte wat hy gekoop het en wat tot die fonds bygedra het. Dit kan ook aandui watter projekte deur daardie geld ondersteun is.

Agri Relief Foundation
Van links is me. Paris Ryf, bemarkingsbestuurder by Zoetis, mnr. Anton Niemann, direkteur van die Agri Relief Foundation, dr. Ralf Patzelt, sake-eenheidbestuurder by Zoetis, mnr. Frik van der Westhuizen, direkteur by AgroBonus, en mnr. David Human, bemarkingsbestuurder by Zoetis.

Ander AgriBonus-vennote sal ook binnekort bekend maak watter van hul produkte se verkope geld vir die ARF sal genereer.

Luidens ’n verklaring deur AgriBonus maak die AFR nie net op sy vennote staat vir finansiering nie, maar kan alle landboubesighede daartoe bydra. Zoetis het reeds alle ander dieregesondheidsmaatskappye uitgedaag om ook produkte te identifiseer vir hierdie projek.

Besoek die ARF se webtuiste by www.agriref.co.za vir nog inligting.