Hans het aan Paul Roos-gimnasium skoolgegaan en 'n graad in BCom aan die Universiteit Stellenbosch verwerf.

Hy het in 1968 by Agrico op Lichtenburg begin werk en is later in Bloemfontein as medebestuurshoof van die firma aangestel. Hy was onder meer vir die finansies, administrasie en handelstakke van Agrico verantwoordelik.

Hy was 'n uitvoerende direkteur van die maatskappy en het ook jare lank as ’n nie-uitvoerende direkteur van Agricol gedien. Teen die tyd dat hy afgetree het, het hy 43 jaar by Agrico gewerk.

Alfred sê sy pa het op verskeie maniere tot die sukses van Agrico bygedra. “Hy het die maatskappy se handelsnetwerk opgebou en die besigheid help oorleef, terwyl baie ander besighede weens die op- en afswaaie in die landbousektor, asook ekonomiese en politieke kwessies hul deure moes sluit.”

Hy sê sy pa het ook altyd nou met hul verskaffers saamgewerk en hom daarop toegespits om die gehalte van produkte te verseker. Verder was Hans ’n mentor vir Agrico se jonger werknemers en het hy sy take met “kalmte, hoflikheid, deeglikheid en aandag aan detail” aangepak.

“Hy het ’n groot rol gespeel in die skep van ’n kultuur van dienslewering van topgehalte.”

Hy laat sy vrou, Elsa, vyf kinders (Alfred, Heinz, Franziska, Ralph en Jürgen) en sewe kleinkinders agter.

’n Private gedenkdiens word op Vrydag 12 Februarie om 11:00 gehou. Dit kan by https://www.youtube.com/channel/UCXCqDcx3lY9XwK_Ema7Dc6w gevolg word.