Die Regering het die agriparke-inisiatief in 2015 begin om infrastruktuur daar te stel vir die verwerking van landbouprodukte, en om swart boere by te staan om tot die landbou toe te tree in 44 van die land se armste distrikte. ’n Agripark of landboukern (Agrihub – AH) bestaan uit ’n produksie-, verwerkings-, verpakkings-, logistieke, innoverings- en opleidingseenheid, asook ’n eenheid wat die verhuring van toerusting behartig.

Volgens die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se syfers is sowat 5 000 werkgeleenthede, hoofsaaklik in konstruksie en landbouproduksie, by altesaam 23 van die agriparke geskep. Al dié agriparke is tans in verskeie stadiums van ontwikkeling. Die departement beplan om die parke teen einde 2020 te voltooi.

Besteding

Die vier agriparke wat gedeeltelik operasioneel is, vorm deel van die nege agriparke – een in elke provinsie – wat die Regering vroeër vanjaar as voorkeurprojekte aangewys het. Een van die parke is in die Oos-Kaap geleë, en R491 miljoen is al daaraan bestee. Onderskeidelik R411 miljoen, R125 miljoen en R86 miljoen is al aan die drie ander argiparke, in onderskeidelik Gauteng, Noordwes en die Wes-Kaap, bestee.

Verdere belegging in die parke word in die vooruitsig gestel. Nog R270 miljoen is begroot vir die park in die Oos-Kaap, R44 miljoen vir die park in Noordwes en R199 miljoen vir die park in die Wes-Kaap.

Geld is ook bestee aan die vyf ander parke wat voorkeur geniet, maar nog nie operasioneel is nie. 

Die agripark in die Vrystaat het al R10 miljoen gekos en ’n verdere belegging van R100 miljoen word beplan; vir KwaZulu-Natal se agripark is R37,4 miljoen reeds betaal en nog R6 miljoen is geoormerk vir besteding; in Limpopo is R394 miljoen reeds aan die agripark bestee en nog R275 miljoen se besteding word beplan; R54 miljoen is reeds aan Mpumalanga se agripark bestee en ’n verdere belegging van R191 miljoen word beplan; en die agripark in die Noord-Kaap het reeds R67 miljoen gekry, met ’n verdere R28 miljoen wat begroot word. 

’n Totale begroting van R2 miljard is opsy gesit met die aankondiging van die oprigting van dié parke. Die begroting maak deel uit van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se begroting vir grondhervorming.

Wat is gedoen?

By die projek in Ncora in die Chris Hani-distriksmunisipaliteit in die Oos-Kaap is onder meer twee melkerye opgerig, wat die kerninfrastruktuur is vir die produksie wat vereis word vir die ontwikkeling van die agripark in die distrik. ’n Mieliemeule is weer operasioneel, silo’s is opgerig en damme en kanale herstel.

In Gauteng by Brandvlei en Randfontein aan die Wes-Rand is 1 200 m se Clearvu-staalheinings, 20 tonnels, ’n verpakkingsfasiliteit en ’n kantoorblok met ’n werkswinkel opgerig. Boorgate is ook gesink. Altesaam 30 werkgeleenthede is in die konstruksiefase hier geskep. In die Sedibeng-distriksmunisipaliteit is tonnels en pakhuise onder konstruksie.

In die Kaapse wynlandgebied in Witzenburg is grootskaalse energie-infrastruktuur opgerig wat elektrisiteit aan die agripark en plaaswerkerbehuising lewer. ’n Toegangspad en stormwaterfasiliteite is aangebring, en die Osdam-abattoir is onder meer aangekoop.

In die Ngaka Modiri Molema- munisipale distrik in Springbokpan in Noordwes is onder meer silo’s herstel, terwyl ’n voedselbank, meule en pakhuis opgerig is. ’n Veeldoelige sentrum, toilette en fasiliteite vir die hantering van vee is ook opgerig.

Amptenare van die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming moes die week aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landelike ontwikkeling en grondhervorming verslag doen rakende die vordering van die parke. Die vergadering moes uitgestel word weens dokumente wat parlementslede nie betyds bereik het nie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.