Hierdie inligting, wat aandui dat die virus nog nie onder beheer gekry is nie, terwyl reeds meer as 4,2 miljoen hoenders uitgeslag of weens die virus gevrek het, is in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se 2016-’17 jaarverslag wat aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye voorgelê is.

Die eerste uitbreking van die virus is op 22 Junie vanjaar in Mpumalanga aangemeld. Op 2 Oktober was daar reeds 67 uitbrekings van die virus aangemeld. Vandag is bekend gemaak dat dié syfer in die afgelope paar dae na 78 gestyg het. Maar intussen is daar ook nog twee uitbrekings in die Wes-Kaap aangemeld, wat die syfer op 80 uitbrake te staan bring.

Inenting
Intussen pleit die hoenderbedryf dat inenting teen die virus goedgekeur moet word, om te keer dat sy lêhenne heeltemal uitgewis word. Die bedryf het reeds 20% van sy lêhenne verloor. In ’n verdere poging om die situasie te beredder, is samesprekings met die regering aan die gang gesit om toe te laat dat vrugbare eiers ingevoer word om die gaping toe te maak wat weens die uitslag van die voëls ontstaan het.

Nie net die hoenders moes van kant gemaak word nie, maar miljoene eiers moes ook vernietig word.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, sê inenting van die hoenders kan meebring dat die siekte endemies in die land word, maar dit blyk dat daar geen ander uitweg is om oorblywende hoenders te red nie. Sy het aangedui dat teen die pas waarteen die virus versprei daar een van die dae nie meer eens kuikens beskikbaar sal wees in die land nie. Plan sal ook gemaak moet word met die verkope van lewende hoenders om verspreding te voorkom.

Vergoeding
Die departement het intussen ook bekendgemaak dat hy R40 miljoen van die Tesourie gekry het om aan te wend as vergoeding vir gesonde hoenders wat voorkomend uitgeslag moes word. Verdere samesprekings word gevoer om nog meer geld te kry.

Met koue fronte wat die land weer tref en ’n gunstige toestand vir die verspreiding van die virus skep, sal daar dieper in die staatskas vir nóg geld gekrap moet word om die bedryf wat duisende werksgeleenthede bied, van ondergang te red. In die Wes-Kaap alleen is die geskatte produksieverliese wat boere gesamentlik op die hoenders en eiers ly, reeds op meer as R800 miljoen bereken.

Die departement het teen druktyd nog nie aangekondig wat die voorgestelde riglyne is van hoe boere wat se pluimvee uitgeslag moes word en eiers gebreek moes word, vergoed sal word nie. Daar is ook nog nie sekerheid of vergoeding betaal gaan word vir die vernietiging van die eiers, wat maandeliks deur meer as vyf miljoen huishoudings as basiese proteïen aangeskaf word nie.